Klein Karoo presteer ten spyte van droogte en taai ekonomie

Die volstruisprodusente wat Vrydagoggend hul trofees vir vereleweringprestasies ontvang het van Klein Karoo International is van links Jacobus de Wet, Amie Snyman, Jurie Klue en Kobus Terblanche. Die vergadering het in die Boeresaal by Klein Karoo Beperk se hoofkantoor op Oudtshoorn plaasgevind. Foto’s: Schalk le Roux

TEN SPYTE van die droogte, ekonomiese uitda­gings en boere se finansies wat onder druk is, het Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) vanjaar uitstekend presteer met rekordomsette wat behaal is.
Johannes Delport, voorsitter van die direksie van Klein Karoo Eiendoms Beperk het by die KKEB se Algemene Jaarvergadering Vrydag boere bedank vir hul steun wat die prestasies in moeilike tye moontlik gemaak het.
KKEB het drie filiaalmaatskappye in sy stal, Klein Karoo Agri (KKA), Klein Karoo International (KKI) en Klein Karoo Saadproduksie (KKSP).
Die groep se omset het met 6,3% van R1 591 miljard tot R1 691 miljard toegeneem. Netto wins na belasting toeskryfbaar aan aandeelhouers het R44,3 miljoen beloop.
Klein Karoo Saadproduksie (KKSP)
KKSP wat in die vroeë 1990’s begin is, het te midde van uitdagende handelstoestande geskitter met rekordomsette, wins en rekordaankope van saadprodusente.
KKSP wat net 21% van die Klein Karoo Groep se omset verteenwoordig, het vanjaar sowat 70% tot die wesensverdienste van die groep bygedra.
KKSP se omset het met 19,5% van R292 miljoen in 2018 tot ’n rekord R349 miljoen verhoog. Aankope van produsente het met 43% gestyg, ’n aanduiding van watter sukses produsente onder baie moeilike omstandighede behaal het.
Wins voor belasting het in die tydperk toegeneem met 9,6% teenoor die vorige jaar.
Klein Karoo International (KKI)
KKI wat fokus op die handel in volstruisvleis, leer en vere, se omset het R643 miljoen beloop.
Die droogte het ’n groot negatiewe finansiële uitwerking op volstruisprodusente gehad terwyl vars volstruisvleis steeds as gevolg van Avian Influenza nie uitgevoer kan word nie.
Verepryse was egter goed terwyl die aanvraag na gehalte leer ook gestyg het.
Een van die hoogtepunte van die afgelope jaar was die samesmelting van Klein Karoo International en Mosstrich in ’n nuwe regsentiteit Cape Karoo International vanaf 1 Oktober 2019.
Dié beoogde samesmelting is aanvanklik in Desember 2018 deur die Mededingingskommissie afgekeur maar na ’n appèl in Augustus 2019 goedgekeur.
Planne vir ’n woonbuurtwinkelsentrum in Parkweg op Oudtshoorn is voorts in gevorderde stadium, maar met die uitdaging tans om ’n ankerhuurder te vind omdat die kleinhandelomgewing tans onder groot druk is.

Klein Karoo Agri (KKA
KKA het in ’n uiters mededingende handels­omgewing en druk op die spanderingsvermoë van kliënte as gevolg van die voortslepende droogte ook goed presteer, met sy omset wat met 20% sedert 2018 toegeneem het tot R710 miljoen.
Dit is sy hoogste omset in die geskiedenis.
Ontvangers van trofees
Jurie Klue van Avondrust Boerdery was weer Klein Karoo International se toppresteerder ten opsigte van volstruislewering.
Hy het die trofees ontvang vir die beste algehele prestasie in vleis, velle en vere, die hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël vir meer as 1000 slagvoëls en die hoogste persentasie eerstegraadvelle gelewer.
Die ander trofees is toegeken aan:
• Kent Krige van Teasedale vir die hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël vir 50 tot 200 slagvoëls;
• Elzette de Klerk van Kanwel Boerdery vir die hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël vir 201 tot 500 volstruise;
• Kobus de Wet van Koega/Kransrivier vir die hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël vir 501 tot 1000 volstruise;
• PJ Terblanche & Seun (Kobus, Pieter & Schoeman) vir top broeivoël verelewering; en
• Amie Snyman van Peena Boerdery vir top slagvoël verelewering.

(Berig deur Liesel le Roux)