Kerskonsert met Corlea en Jannie ’n moet-sien

Regs: ’n Terugblik na verlede jaar se baie ge-slaagde Kerskonsert by Celebratio - voorwaar ’n aand om te onthou.

VIR Jannie Moolman, bekende tenoor en een van die sterre by vanjaar se Klassieke Klein Karoo Kersfees, was Kerstyd nog altyd vir hom ‘n simbool van samesyn, van tyd saam met geliefdes en vriende.
“Ek’t op ’n plaas in Natal grootgeword en ons familie was altyd Kerstyd saam,” vertel hy.
Dis presies die idee met Klassieke Klein Karoo Kersfees – om gesellig saam met vriende en fa­milie te verkeer en die feestyd af te skop met die wete dat daar niks belangriker op aarde is as jou hartsmense nie en dat ons elke dag in dankbaarheid moet lewe.
Vanjaar se konsert word op Saterdag 7 Desember op Celebatio aangebied – ’n granaatplaas in die hartjie van die Klein Karoo (sodat 30 km van Oudtshoorn af in die rigting van Calitzdorp).
Volgens Gerhard Meyer, die organiseerder en eienaar van Celebratio, vorder kaartjieverkope fluks en lyk dit asof mense vanjaar van heinde en verre die aand sal saamtrek om die Kerstyd saam te vier.
Jannie sal die aand die verhoog deel met Corlea Botha, wat sonder twyfel spog met een van die mooiste stemme in die bedryf.
Hoewel dié twee kunstenaars in die verlede gereeld saam opgetree het, sal die optrede by Cele­bratio die eerste keer wees wat hulle ’n verhoog deel sedert Classics is Groot in Pretoria in Julie vanjaar.
Jannie en Corlea sal die aand hulle gunsteling-Kersliedjies en klassieke treffers sing.
Dit sluit Jannie se gunsteling, “Stille Nag”, in.
Ook op die program is “Jerusalem”, “O Holy Night”, “Pie Jesu”, “O Sole Mio” en “Nessun Dorma”.
Saam met hulle op die verhoog is ’n klassieke orkes onder die leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.
Klassieke Klein Karoo Kersfees is ’n ope­lugkonsert en al die sitplekke is gereserveerd.
Mense kan reeds van 17:15 af die kos- en wynstalletjies besoek en gesellig verkeer.
Die restaurante Karooboom en Nostalgie sal eetgoed verskaf terwyl Liquourland, Black Mountain Gin en Calitzdorp Wynkelders sal sorg vir iets te drinke. Die konsert begin om 19:30.
Kaartjies kos tussen R160 en R200 en is aanlyn beskikbaar by www.celebratio.co.za of by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn, met slegs kontantbetalings by PostNet.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.
Die konsert word aangebied in samewerking met Die Hoorn.