Kannaland nou onder administrasie

DIE Wes-Kaapse kabinet het Dinsdag besluit om die Kannaland Munisipaliteit onder ’n Artikel 139(5) (c)-administrasie te plaas. Dit behels die aanstelling van ’n administrateur wat verant­woor­delik sal wees vir die implementering van ’n finansiële herstelplan vir Kannaland.

Die besluit van die kabinet volg nadat die Kannaland Munisipaliteit – wat Calitzdorp, Amalienstein, Zoar, Ladismith en Vanwyksdorp insluit – ’n versoek aan die provinsie gerig het om onder administrasie geplaas te word.

Volgens Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ont­wik­kelingsbeplanning, sal die Kannaland-raad nie ontbind word nie, maar wetgewende en uitvoerende magte behou wat nie deur die administrateur oorgeneem sal word nie.

Bredell sê die versoek van die Kannaland-raad is met die nasionale regering bespreek.
“Die Kannaland-raad het in werklikheid ’n bankrot dorp by die vorige administrasie geërf.”

Dit sluit uitstaande skuld van R37,5 miljoen, ’n oortrokke bankrekening van R1,8 miljoen en skuld van R12 miljoen aan Eskom in. Die Eskom-skuld is intussen terugbetaal.

“Deurlopende ontwrigting en ondermyning van die munisipale owerhede sedert 2016 het daartoe bygedra dat administrasie oorweeg is.

“Die besluit om ’n munisipaliteit onder admi-nistrasie te plaas word nooit ligtelik geneem nie en die beste belang van die gemeenskap word altyd in ag geneem.”

• Die DA en die ANC het na die 2016-verkiesing die beheer in Kannaland uit die hande van Icosa geneem met die verkiesing van ’n DA-speaker en ’n ANC-burgemeester en onder-burgemeester. Die DA en ANC het elk twee raadslede gehad na die verkiesing en Icosa drie.

Log in with your credentials

Forgot your details?