Kannaland: Direkteur summier ontslaan

DIE direkteur korporatiewe dienste van die Kannaland Munisipaliteit, Hendrik Barnard, is verlede week summier ont­slaan nadat hy tydens ’n interne tugverhoor op tien klagtes skuldig bevind is.

Barnard is in 2017 geskors hangende die ondersoek.

Hy is deur adv EW Vermaak skuldig bevind aan onder meer twee klagtes van growwe nalatigheid, en die aanvaarding van verskeie onwettige betalings waarop hy nie geregtig was nie, soos betalings vir na-uurse werk, verlof en ’n jaarlikse verhoging.

Daar is ook bevind hy was betrokke by die onregmatige aanstelling van McGrandle Ma­kier in meer as een pos in die munisipaliteit, onder meer as bestuurder menslike hulpbronne, en was betrokke by die goedkeuring en aanbeveling van verskeie onwettige betalings aan Makier.

Volgens ’n betroubare bron is die omvang van onregmatige betalings waarby Barnard betrokke was, sowat R600 000.
Vermaak het bevind dat Barnard wetgewing en regulasies van die raadsbeleid opsetlik verontagsaam het en dat summiere ontslag die gapaste vonnis was.

Ian Avontuur, woordvoerder van Kannaland se burgemeester, Magdalena Barry, het die uitslag van Barnard se tugverhoor verwelkom.

Volgens Avontuur is daar ook straf­regtelike klagtes teen Barnard by die polisie se prioriteitsmisdaadeenheid, die Valke ingedien, en is daar ’n sterk moontlikheid dat Barnard ook krimineel vervolg gaan word.

Avontuur sê Barnard se ontslag het tot gevolg dat hy ingevolge wetgewing 10 jaar lank nie weer vir enige munispaliteit mag werk nie. “Ons hoop dat Barnard se saak die boodskap duidelik tuisbring dat korrupsie en wanadministrasie onaanvaarbaar is,” het hy bygevoeg.

Log in with your credentials

Forgot your details?