Kabeldiefstal lei tot reuse-skade

Charl Smal, kommersiële bestuurder van Aifa (links), en Johan Strasheim, voorsitter van die Oudtshoorn Aeroklub, by van die kabels wat uit die grond getrek is. Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
DIE Polisie op Oudtshoorn het Maandag ’n 30-jarige man met koperkabel in sy besit in hegtenis geneem ná kabeldiefstal verlede week by die aanloopbaan van die Oudtshoorn Lughawe.

Daar word vermoed die man, wat naby die spoorwegstasie op Oudtshoorn aangekeer is en gister in die hof verskyn het, is verantwoordelik vir die kabeldiefstal by die lughawe, maar hy is nog nie formeel daarvan aangekla nie.

Die kabel wat gesteel is, was vir die kragtoevoer na die naglandingsligte langs die aanloopbaan.
Dit is sowat 10 mm dik met koper in die middel, ’n draadomhulsel om dit te beskerm en ’n plastiekomhulsul buiteom.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word daar ook ’n klag van poging tot diefstal en die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur by die lughawe ondersoek.
Die kabel word gesteel vir die kopergedeelte binne-in. Navrae het aangeteen skroothandelaars betaal sowat R60 per kg vir die koper.

Volgens die Polisie is die waarde van die kabel wat gesteel is sowat R62000 en die omvang van die skade by die lughawe sowat R300000.

Johan Strasheim, voorsitter van die Oudtshoorn Aeroklub wat die lughawe namens die munisipaliteit bestuur, sê die koste om die skade te herstel wat met die kabeldiefstal aangerig is, sal waar­skynlik etlike miljoene rande beloop.

Charl Smal, kommersiële bestuurder van Aifa, sê die diefstal van die kabel, wat volgens so lank as 1000 meter kan wees, is aangemeld by die Polisie en die Oudtshoorn Munisipaliteit aan wie die lughawe behoort.

Volgens Smal kry die kabeldiewe toegang tot die lughawe van die suidelike kant af waar die draadheining al geruime tyd so verwoes is dat omtrent nog net die heining se pale oorgebly het.

“Aifa huur die gedeelte van die lughawe waarop ons fasiliteite opgerig het, by die munisipaliteit vir ons kommersiële operasies. Ons betaal heffings en vir elektrisiteit en waterverbruik. Ons ondervind egter dat geen van die geld wat die munisipaliteit ontvang, teruggeploeg word in die instandhouding en herstel van die lughawe nie, wat ’n groot bate is. Dit is besig om in ’n veiligheidsrisiko vir vliegoperasies te ontwikkel.”

Daar loop ’n treinspoor en ’n grondpad al langs die suidelike grens van die lughawe van waar enig­een vrye toegang tot die lughawe het.

Die diewe grawe die kabel oop en trek dit dan uit die grond uit. Die landingsligte wat aan die draad gekoppel is, is ook plek-plek uit die grond gepluk. Die diewe brand die plastiek sommer daar op die vliegveld af en trek dan die koper uit die draad­omhulsel.

Een van Aifa se vliegpersoneel het Vrydagmiddag ’n verdagte motor op die grondpad suid van die lughawe opgemerk en die Polisie ontbied. Die motor het egter vir die Polisie weggejaag. Hulle het blykbaar wel die registrasienommer gekry.

• Volgens Smal is daar al vir ’n lang tydperk pro­bleme by die lughawe. In Februarie verlede jaar het kabeldiewe ook ’n groot klomp kabel op die vliegveld naby die aanloopbaan uitgegrawe en gebrand. Aifa-personeel het egter rook gesien trek en ondersoek gaan instel. Die kabeldiewe wat besig was om die plastiekomhulsel van die kabel af te brand, het vermoedelik Aifa se voertuig sien naderkom en gevlug.

Hoewel toe aanvanklik gedink is dit is die aanloopbaan se kabels, is later vasgestel dat dit Tel­kom­kabel is. Dié kabel is sowat 20 mm dik.

“Ons het nie dadelik besef dit is Telkomkabel nie omdat die aanloopbaan se ligte in daardie stadium in elk geval buite werking was,” het Smal gesê.
Aifa het dit destyds ook aan die Polisie en die munisipaliteit gerapporteer.

“Ons het die munisipaliteit toe ook ingelig dat die aanloopbaan se ligte nie werk nie, wat be­te­ken dat geen vliegtuig in die aand daar kan land nie. Die munisipaliteit verloor potensiële inkomste om­dat die ligte nie werk nie. Dit het ook ’n impak op die lewering van noodhulpdienste deurdat ambulansvliegtuie nie saans kan land nie,” het hy gesê.

Volgens Smal is daar verdere probleme by die lughawe, soos dat die aanloopbaan plek-plek baie verweer en in ’n swak toestand is.

“Die Oudtshoorn Aeroklub het op eie onkoste self ’n hoë draadheining aan die westekant van die lughawe langs Parkweg en aan die noordekant langs Andersonstraat gespan wat behoorlik in stand gehou word,” sê hy.

Volgens Smal het hulle ná Februarie verlede jaar se diefstal al vyf opvolgvergaderings met die munisipaliteit gehad met die oog daarop om die pro­bleme by die lughawe aangespreek te kry, maar sonder enige sukses.

Log in with your credentials

Forgot your details?