Italianer aangerand deur man wat voorgee hy is karwag

Deur Liesel le Roux
’n Bejaarde Italianer wat saam met sy vrou op hul eerste besoek aan Suid-Afrika is, is Saterdagaand in Baron van Reedestraat deur ’n man wat voorgegee het dat hy ’n karwag is, van sy beursie beroof.

Die Italianer, Guiseppe Cinotti (77), het boonop lelik seergekry toe hy die dief probeer agternasit en op die sypaadjie geval het. Die wonde op sy hande en knieë was van so ’n aard dat hy behandeling by ’n hospitaal moes ontvang.

Na verneem word, het Cinotti en sy vrou Guiliana omstreeks 20:45 die restaurant verlaat om na hul motor te stap.

Volgens Ilze Jacobs, veiligheids- en sekuriteitsbeampte in die Suid-Kaap, wat die egpaar na die voorval bygestaan het, het ’n man met ’n onderbaadjie soos karwagte dra, die bejaarde egpaar genader nadat hulle die aand by Nostalgie Restaurant geëet het.

Die man het aan hulle gesê hy het hul motor opgepas en gevra vir ’n fooitjie. Toe Cinotti egter sy beursie – met ook sy kredietkaart in dit – uithaal, het die sogenaamde karwag dit gegryp en laat spaander.

Jacobs, wat toeriste aan die Klein Karoo en Eden Distrik bystaan in gevalle van trauma, het Cinotti gehelp om mediese behandeling by die Mediclinic Klein Karoo te ontvang. Sy het ook gereël dat die kredietkaart gestop word en met hul mediese versekering in Italië onderhandel. Volgens haar is die egpaar kwaai getraumatiseer.

Die voorval is by die Oudtshoorn Polisie aangemeld.

• Ilze Jacobs is die Suid-Kaapse verteenwoordiger van die Wes-Kaapse Toerisme Veiligheids- en Steunprogram (The Tourism Safety and Support Programme -TSSP), ’n gratis diens wat 24 uur van die dag onmiddellike steun en hulp aan internasionale toeriste in nood bied. Kontak Ilze Jacobs by sel 082 972 2507 of e-pos ilze.jacobs@ westerncape.gov.za

Log in with your credentials

Forgot your details?