In rou ná mesdood

Ruwaan ‘Boetie’ Kennedy (20). Foto: KKNK

Deur Liesel le Roux
DYSSELSDORP en Oudtshoorn is vandeesweek in rou gedompel met die dood van Ruwaan (Boetie) Kennedy (20) wat Saterdag in die vroeë oggendure na bewering deur ’n 27-jarige man met ’n mes in die bors gesteek is.

’n Emosionele kransleggingsgeleentheid op die toneel waar Ruwaan gesterf het, het Sondag op Dysselsdorp plaasgevind.

Ruwaan het as deel van die KKNK se internskapprogram die afgelope klompie maande by die KKNK-kantoor op Oudtshoorn gewerk.

Hy is vandeesweek deur kollegas en ander mense wat hom geken het, as ’n voorbeeldige en talent­volle jong man bestempel.

“Ruwaan was ’n vriendelike en saggeaarde mens met groot drome vir sy toekoms. Ek is so hartseer oor sy dood,” het Linda Marques, algemene bestuurder van die KKNK, gesê.

Sy oupa, Andries Otto van De Rust, het Ruwaan beskryf as iemand wat nie eens ’n vlieg sou seermaak nie. “Hy was ’n voorbeeldige, slim kind. Almal praat van sy goeie gesindheid en maniere. Hy was netjies en ordentlik.”

Otto sê hy en sy vrou, Frederika, het Ruwaan in ’n groot mate grootgemaak omdat sy ma, Janine Pietersen, nog jonk was toe hy gebore is. Ruwaan het ook ’n jonger broer, Jayden.

Die moord het volgens kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, naby die Oasis Tavern op Dysselsdorp plaasgevind en is die Polisie omstreeks 02:30 daarvan in kennis gestel.

Otto sê volgens mense wat saam met Ruwaan die aand by die tavern gekuier en gedans het, het ’n meisie hulle op pad terug huis toe gepla en toe begin slaan aan Ruwaan. Die verdagte het Ruwaan toe na bewering met ’n klip gegooi, en hoewel Ruwaan die situasie probeer oplos het, is hy met ’n mes aan­geval.

’n Verdagte is Saterdag in hegtenis geneem en verskyn Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n aansoek om borgtog.

• Ruwaan word Saterdag vanuit die PPK Kerk op Dysselsdorp begrawe. Die diens by die huis begin om 10:00.

Log in with your credentials

Forgot your details?