Hy het net Maggie se opdragte uitgevoer, sê Klip

Sixabiso Klip Dinsdag in die hof. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb

Hy het net instruksies van Magdaleen (Maggie) Titus, vrou van die vermoorde soldaat, stafsers Preston Titus, uitgevoer toe hy die twee vermeende moordenaars na die egpaar se huis in die Weermagbasis op Oudtshoorn geneem het. So het Sixabiso Klip, Maggie se voormalige motorbestuurder, wat reeds na ‘n pleitooreenkoms met die staat tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is, Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn getuig.

Klip is deur Maggie se regshulpprokureur, Henk Carstens, na die getuiebank teruggeroep omdat hy sekere aspekte wat haar vorige regsverteenwoordiger glo nie opgehaal het nie, wou opklaar.

Carstens het dit aan Klip gestel dat dit volgens Maggie hy was wat die moord op haar man beplan het. Hy het dit ook aan Klip gestel dat die bekentenis wat hy afgelê het in groot haas deur die ondersoekspan, kapt Deon Bouwer en ao Martin le Roux, agter die rug gekry wou word omdat hulle nog dieselfde dag vir Maggie en Natashia Stuurman wou arresteer. Dit is volgens hom ook sonder die teenwoordigheid van ‘n regsverteenwoordiger gedoen.

Volgens Klip is hy egter nie gedwing om dit af te lê nie en was hy nie bewus daarvan dat sy ma besig was om ‘n regsverteenwoordiger te kry nie. “Ek is nie gedwing om ‘n bekentenis af te lê nie. Ek het net gevoel ek wil dit doen,” het Klip gesê.

Volgens Klip het Maggie vir hom ‘n prokureur gehuur nadat sy moeder nie daarin kon slaag om een aan te stel nie.

Carstens wou van Klip weet of dit nie vreemd is om helder oordag na ‘n huis in die weermagbasis te gaan om iemand te vermoor nie.

Hierop was Klip se antwoord dat dit ‘n opdrag van Maggie was.

Oor waarom hy vir die twee mans met hul aankoms op Oudtshoorn gevra het of hulle vuurwapens saamgebring het, het Klip ook geantwoord omdat Maggie hom so ingelig het. Hulle het hom egter meegedeel dat hulle dit nie kon kry nie, maar wel messe saamgebring het.

Hy het egter die Donderdagmiddag, die dag voor die moord wel gepleeg is, besluit dat hy nie in die huis wou wees nie en buite gaan rook. “Ek het ‘n rukkie later die twee mans laat weet dat daar bure in die omgewing is en hulle nie die moord moet pleeg nie.”

Die mede-eienaar van ‘n sekuriteitsmaatskappy, Willem Olivier, het gister getuig dat hulle in 2013 ‘n alarmstelsel in die woning van die Titusse aangebring het, maar dat dit vanaf 25 November tot 3 Desember 2017 nooit aangeskakel was nie.

Die saak wat deur regter Nolwazi Boqwana aangehoor word, word Woensdag voortgesit met Klip wat steeds in die getuiebank is.

Log in with your credentials

Forgot your details?