Honderde by sitting

 • Grondonteiening sonder vergoeding

Abrey Rala

Celia le Roux

Kitty Jacobs

Deur Garnett Wicomb
“DIE Grondwet is reg soos dit nou is. Korrupsie is die groot problem. My grootouers het die plaas gekoop en nie verniet gekry nie.” So het Celia le Roux, boervrou van Vlakteplaas, verlede Woensdag in haar spreekbeurt gesê tydens die eerste sitting in die provinsie oor die moontlike hersiening van Art 25 van die Grondwet oor onteiening van grond sonder vergoeding.

Volgens Le Roux is 25 % van die land se grond reeds in staatsbesit en wou sy weet waarom dit nie verdeel word nie.
Honderde mense van regoor die Suid-Kaap het die Nevada-gemeenskapsaal in Bongolethu volgepak en die meeste van die sprekers was ten gunste daarvan dat die Grondwet gewysig word.

Dit was die eerste openbare sitting in die provinsie wat deur ’n afvaardiging van die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gelei word.

Die eerste spreker van die dag, Kitty Jacobs van Warmbad, het gesê sy ondersteun die wysiging van Art 25 omdat die meeste plaaswerkers in haglike toestande woon.

Volgens haar moet plaaswerkers skelm tuinmaak, self die huise waarin hulle woon regmaak en hul drinkwater in die volstruiskampe gaan haal.

Sydney Opperman van Oudtshoorn, voormalige parlementslid, het gesê die aankondiging van pres Cyril Ramaphosa oor grondonteiening voordat die openbare sittings daaroor afgehandel is, is ’n belediging.

Hy wou weet wat die doel van die proses dan is.

Volgens hom sal dit ook nie 100% wees voordat die inheemse mense erken word nie.

James Jacobs, Khoistamhoof van Huis Herandien op Zoar, het in sy spreekbeurt gesê die Wes-Kaapse regering het ’n eensydige beskouing en gebruik steeds die apartheidswetgewing om die Khoi uit te verkoop.

Die president het nou die geleentheid om die Khoi se grond terug te gee,” het Jacobs onder groot applous gesê.
Aubrey Rala van Dysselsdorp, ’n EFF-lid, het sy toespraak begin met die woorde: “Ons hou baie van wit mense, maar dit is mos nie reg dat die volstruise onder ligte loop terwyl ons nie lig in ons huise het nie.”

’n Inwoner van Bongolethu op Oudtshoorn het gesê hy weet van ’n boer in die Oudtshoorn-distrik wat glo vyftig plase besit terwyl hy nie grond het om ’n paar skape aan te hou nie.

“Die regering moet optree. Die werklike grond-eienaars besit niks omdat hul grond gesteel is.”

’n Spreker van George, Keith Sharpe, het gesê die land benodig eerder wetgewing om korrupsie hok te slaan en die miljoene rande wat net verdwyn het, terug te kry.

Julian Klassen, ook van George, het gesê Suid- Afrika het ontaard in “varkhokarmoede”.

“Ons het onafhanklikheid, maar nog nie vryheid nie. Mense word nog steeds net uit hul huise gesit en moet in haglike toestande woon. Talle moet sonder toilette klaarkom,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?