Hoës sal besluit

Deur Liesel le Roux
’N VERSLAG sal nou aan die DA se Federale Uitvoerende Raad oorhandig word, sê Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse provinsiale leier van die DA, wat Vrydag Oudtshoorn saam met ’n hoë­vlakse DA-afvaardiging besoek het om verskeie klagtes by die munisipaliteit te kom ondersoek.

Die ander lede van die afvaardiging was Natasha Mazzone, adjunk-voorsitter van die DA se Federale Raad, dr Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit en een van die streek se voorsitters, en Eleanor Bouwe-Spies, Wes-Kaapse parlementslid verantwoordelik vir die dorpe in die Suid-Kaap.

Madikizela, wat as voorsitter van die provinsiale DA-afvaardiging opgetree het, sê daar is kommer in die DA oor beskuldigings en teenbeskuldigings teen die burgemeester, Colan Sylvester, die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en ook ander raadslede. “Ons kan dit nie onder die mat invee nie en volg hierdie beskuldigings op.”

Volgens Madikizela is Sylvester versoek om spesiale verlof vir ’n tydperk te oorweeg terwyl klagtes teen hom ondersoek word, maar het hy hier­na sekere bekommernisse skriftelik gelug en sal sy reaksie saam met die verslag aan die Federale Raad oorhandig word vir verdere besluitneming.

Klagtes teen Paulse word op sy beurt deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, ondersoek. Volgens Madikizela gaan Paulse voort met sy dagtaak by die munisipaliteit omdat ’n onlangse besluit deur die DA-koukus om hom voorlopig te skors, nie voor die raad gedien het vir goedkeuring nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?