Handsakke op drie plekke gesteel

Die drie mense op die beeldmateriaal van ’n sekuriteitskamera by die Klein Karoo Ostrich Emporium het verlede week verskeie handsakke op Oudtshoorn gesteel. Bo hou die een vrou haar drasak oop vir die man om ’n gesteelde volstruisleerhandsak in te sit. Onder is die man en die tweede vrou.

Deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus
BYKANS R200 000 se volstruisleerhandsakke is die afgelope maand by drie besighede op Oudtshoorn ge­steel.

Vier handsakke is verlede Donderdag by die Klein Karoo Ostrich Em­porium gesteel, en daarna het Mooi­plaas Gastehuis op die Volmoedpad deurgeloop. Dertig handsakke is ook middel Julie by die Kango Volstruisplaas in Schoe­­mans­hoek gesteel.

In al drie gevalle is die diefstal deur sekuriteitskameras vasgevang.

Beeldmateriaal van kameras by die Emporium toon hoe ’n man en twee vroue eers belangstellend na die handsakke kyk voordat die man dit gryp en in ’n sak oor die arm van een van die vroue indruk. Dit wil voorkom of die ander vrou rondkyk om te sien of enigiemand hul dophou.

Yolande Horn, bestuurder van die Emporium, sê die diefstal het Donderdagoggend omstreeks 08:45 plaas­gevind, maar is eers Vrydag­oggend tydens ’n voorraadopname en hermerk van items ontdek.

“Ek het dadelik na ons sekuriteits­kamera gegaan en begin soek na hoe die handsakke moontlik kon verdwyn het,” sê Horn.

Volgens haar was die vermeende diewe sowat 21 minute lank in die winkel waar hulle rondgekyk het en baie beleefd en lekker met werknemers gesels. “Dié mense moet gestop word, hulle weet beslis wat hulle doen,” het sy aan Die Hoorn gesê.

Die waarde van die vier handsakke wat by die Emporium gesteel is, is sowat R20 000.

Die diewe het daarna Mooiplaas besoek en ’n donkerbruin volstruis­leerhandsak van sowat R9 000 ge­steel. Beeldmateriaal van kameras in dié winkel wys dieselfde drie verdagtes in dieselfde klere wat in die winkel rondbeweeg. “Dit lyk na ’n swart man, en Indiër- en bruin dame op die video,” sê Hanlie Keller, eienaar van Mooi­plaas.

Die diefstal by die Emporium en Mooiplaas volg op die diefstal van 30 volstruisleerhandsakke middel Julie by die Kango Volstruisplaas in Schoemanshoek.

Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, is daar toegang tot die volstruisplaas se kuriowinkel verkry deur die agterdeur oop te forseer.

“Die alarm is in die oggendure die Saterdagoggend afgeskakel terwyl die mense reguit na die handsakke geloop het. Die ligte is nie eers aangeskakel nie,” sê Dougie Bester van die Kango Volstruisplaas.

Volgens hom is die alarm weer ge­aktiveer toe die diewe die perseel ver­laat het. “Wat mense nie besef nie – afgesien van die groot verlies – gaan dit omtrent ses weke duur om dié voorraad te vervang omdat elke handsak op bestelling gemaak word.”

Die waarde van hierdie gesteelde handsakke beloop sowat R176 000.

Enigiemand met inligting oor die diefstal by die Kango Volstruisplaas kan ao Leon von Molendorff kontak by 082 469 8224. Inligting sal vertroulik hanteer word.

Log in with your credentials

Forgot your details?