‘Haar glimlag sal almal altyd onthou’

Die program van die roudiens vir Marilize Nortier (18) wat Dinsdagmiddag in die NG Gemeente Welgeluk op Oudtshoorn gehou is.

Deur Angelique Erasmus
HARTSEER familielede en vriende het Dinsdagmiddag tydens ’n rou­diens in ’n volgepakte NG Gemeente Welgeluk afskeid geneem van Marilizé Nortier (18), ’n matriekleerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Talle onderwysers en leerders van Langenhoven Gimnasium het ook die diens bygewoon.

Marilizé het op 22 September verdrink nadat ’n motor waarin sy ’n passasier was in ’n waterkanaal langs die Kango Grotte-pad buite Oudts­hoorn beland het.

Langenhoven Gimnasium het die dag spesiaal vroeër gesluit sodat leerders en onderwysers die diens kon bywoon.

Talle leerders van die Hoër­skool Oudtshoorn het ook die diens bygewoon.

Die diens is waargeneem deur ds Andries Potgieter, met Romeine 15:13 as kernvers.

Dié vers het ook onder ’n foto van Marilizé op die voorkant van die program wat by die diens uitgedeel is, verskyn: “Mag God, die bron van hoop, julle deur geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

Agterop die program was nog foto’s van Mari­lize saam met twee liefdevolle verjaarsdagboodskappe wat sy aan haar ma (Suné Nortier) en haar pa (Morné Nortier) gestuur het.

Johan Potgieter, ’n onderwyser van Langenhoven Gimnasium, het in ’n huldeblyk in die kerk Marilizé as ’n merkwaardige jong vrou bestempel wie se glimlag almal altyd sal onthou.

“Sy het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad en alle mense, veral haar onderwysers, met groot res­pek behandel.

“Haar naam beteken dat sy ’n intense belangstelling in haar medemens het, ’n groot genot om ander gelukkig te maak. Sy het altyd die positiewe in die slegte raakgesien, en jy kon op haar staatmaak as ’n vriendin,” het hy bygevoeg.

• Die Polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag ná Marilizé se dood.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sal al die inligting wat tans ingesamel word, aan die hof voorgelê word.

Hy het gesê geen verdere inligting sal intussen be­kend gemaak word nie.

“Die gebeure en gerugte kan nie buite die hof in konteks geplaas word nie en veroorsaak meer vrae as antwoorde,” sê Visser

Log in with your credentials

Forgot your details?