Goue pad na Los Angeles vir Minché-Mari

Minché-Mari van der Westhuizen (17), leerder van die Hoërskool Oudtshoorn wat naam maak as model en pas by die SA Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste met twee goue medaljes bekroon is. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
TWEE goue medaljes! Dit is waarmee Minché-Mari van der Westhuizen (17) van Oudtshoorn spog nadat sy by vanjaar se Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste in die mo­delafdeling deelgeneem het.

Minché-Mari het die afdelings vir formele drag en swemdrag gewen. Die kampioenskap het in die Aprilvakansie in Rustenburg plaasgevind.

Om medaljes los te slaan is egter nie vir Minché-Mari iets nuut nie. Sy is verlede jaar by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoe­rende Kunste in Los Angeles aan­gewys as die wenner van die senior model-afdeling.

Nou kry hierdie Hoërskool Oudtshoorn-leerder weer die geleentheid om in Los Angeles deel te neem wanneer sy in Julie lid sal wees van die groep wat daar aan vanjaar se wêreldkampioenskap sal deelneem.

Sy is ook een van 10 finaliste wat later vanjaar in Mauritius aan die land se modeweek gaan deelneem .
“Ek is ongelooflik opgewonde om na Amerika te gaan. Ons is ’n lekker groep wat gekies is,” sê Minché-Mari.

“Ek wil graag eendag voltyds modelwerk doen en op die loopplank aan verskillende modeweke deelneem,”sê sy.

Minché-Mari se groot droom is om een dag ’n Victoria Secret-model te wees.

Sy en haar familie het sowat twee jaar gelede vanaf Upington na ’n plaas net buite Ca­litzdorp verhuis waar haar ouers met groente en vrugte boer.

Log in with your credentials

Forgot your details?