Genadereën val by dam

‘n Oorstroomde pad by Oudemuragie. Foto: Mackie Mommen

EN toe kom die reën!
Daar was vandeesweek groot dank­baar­heid in dele van die Klein Karoo oor goeie reën wat die eerste keer in ’n baie lang tyd die grond behoorlik natgemaak het.

Dit het by tye veral in die Swartberge behoorlik gesous met ’n wonderlike 75 mm wat teen gister in die opvanggebied van die Raubenhei­merdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, gemeet is. Die damvlak het gis­ter aan 43% geraak nadat dit ver­lede week tot onder 40% gedaal en die rooi ligte begin flikker het vir watervoorsiening op Oudtshoorn.

Water het teen gistermiddag steeds in die dam ingevloei.

En hoewel dit nie oral in die gebied gereën het nie en reënval baie gewissel het, was daar Maandagaand groot opwinding toe die eerste druppels geval het van die reën wat vir die week voorspel is.

Dié eerste druppels het gou stort­reën geword nader aan die Swartberge se kant met André Barnard wat in die omgewing van die Kango Grotte 34 mm reën die aand gemeet het, terwyl Niekie Eksteen 30 mm op De Rust gemeet het.

Katie du Toit het Maandagaand op Facebook geskryf: “Dit stormreën in die Swartberge naby De Rust! Ons kyk weerlig soos toe ons kinders was. Mooiste, mooiste, ooit.”

Volgens Maggie Fourie, eienaar van die Ou­demuragie Gasteplaas na­by De Rust, is 40 mm in net meer as ’n halfuur op haar plaas gemeet, en is laagwaterbrûe, pype en sluise by ver­skeie plase weggespoel.

Dit het haar grond en die van ander boere van die buitewêreld afgesny.

Dié wolkbreuk is Dinsdagmiddag met ’n tweede wolkbreuk gevolg wat van voor af skade aangerig het.
“Dit is darem hanteerbare skade, want die diere is ongeskonde. Ons kan herstel wat beskadig is, maar omdat pype, sluise en slote be­ska­­dig is, het die water nie by van die boere se opgaardamme uitgekom nie.”

Volgens Fourie het plantegroei nog nie in dié gebied tussen die Rust-en-Vredewaterval en Meiringspoort herstel om die water terug te hou wan­neer dit kwaai reën nie. ’n Verwoestende veldbrand het alles in dié om­gewing in Desember 2016 voor dit platgevee.

Reënsyfers
Daar was groot wisseling in die week se reënval in Die Hoorn se lesersgebied, met plase waar die reën weggebly het tot dele nader aan die Swartberge waar tussen 50 en 70 mm reën gemeet is. Volgens lesers is daar op Oudtshoorn tussen 7 mm en 12 mm gemeet, op De Rust tussen 19 en 50 mm, op Calitzdorp tussen 6 en 13 mm, en in Schoemanshoek buite Oudtshoorn 55 mm.

(Deur Liesel le Roux)