Geen backtracks by Danny B se Mengelmoes

Danny B voor die groot Huisgenoot-verhoog in die KKNK se Kuierbuurt waat sy produksie Mengelmoes Dinsdag op die planke is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
MENGELMOES, ’n rymklets en kontemporêre musiekvertoning wat volgende Dinsdagaand by die KKNK se Huisgenoot-verhoog te sien is, is die droom en geesteskind van die Oudtshoorniet, Danny B.

Hierdie jong rymkletser en vervaardiger spog reeds met ’n Kannatoekenning vir sy hip-hop-opelugmusiekpro­duk­sie by die KKNK van 2017, Rymklets van Oos tot Wes. Danny B’s Entertainment Productions was die vervaardiger van die produksie wat aangewys is as die beste musiekproduksie by daardie KKNK. Hy is in 2018 weer vir ’n Kanna benoem en beide jare ook vir ’n kykNET Fiesta.

Die talentvolle Oudtshoorniet vertel hy het die konsep van vanjaar se Mengelmoes, reeds voor Rymklets van Oos tot Wes ontwikkel.

Hy en die tromspeler Willo Maya, wat ook al vir Emo Adams gespeel het, is reeds hard aan die werk om te verseker dat vanjaar se vertoning seepglad verloop.

“Ons het ons afgevra wat die KKNK kort om dit anders te maak, en wat ons anders kan doen.

“Wat hierdie vertoning dan gaan anders maak, is die feit dat daar geen backtracks gebruik gaan word nie, en ook nie ’n MC het wat die kunstenaars aankondig nie.”

Die kunstenaars word deur ’n vyfstuk-orkes ondersteun, sowel as backup-sangers.

Groot name in die musiekbedryf soos Ear­ly B en Elwira Standili deel die verhoog met Danny B en Willo as­ook ander bekendes soos MC Noemwoord en die Da VinciMovement-dansers.

Danny sê hy het die afgelope tyd ’n lae profiel gehandhaaf om­dat hy druk besig was om aan 32 nuwe liedjies te werk, waarvan party die eerste keer by die KKNK gehoor sal word.

Dié 32 liedjies verteenwoordig sy 32ste verjaardag en verskyn op ’n nuwe album wat op sy verjaarsdag in Augustus bekend gestel sal word.

Intussen is Danny B sigbaar opgewonde oor Mengelmoes! Hy het die hele vertoning haarfyn beplan tot by die beligting en die rookmasjiene.

Hy glimlag van oor tot oor.

“Ek kan skaars slaap in die aande so opgewonde is ek, ek droom al oor hoe die show gaan,” sê hy.

• Mengelmoes is Dinsdag (26ste) om 20:00 op die Huisgenootverhoog te sien. Toegang vir Kuierbuurtkaartjiehouers is gratis.

Log in with your credentials

Forgot your details?