Finale uitstel vir pastoor

Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n pastoor van Oudts­hoorn is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel na 17 Julie, waarna daar voortgegaan sal word met die voorverhoor.

Christo van der Bergh, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, kon nie Dinsdag se verrigtinge bywoon nie.

Thelisha Piedt, wat in sy plek vir die pastoor verskyn het, het versoek dat die saak uitgestel word.

Landdros Daniël Boks het gesê die saak sal nie weer uitgestel word nie, aangesien daar moontlik nog klagtes teen die pastoor bygevoeg gaan word. Hy het die pastoor se borgvoorwaardes tot met sy volgende verskyning verleng

Die pastoor het verlede jaar Oktober aanvanklik op vyf klagtes – drie van onsedelike aanranding en twee van verkragting – tereggestaan, maar ’n week later is nog twee klagtes bygevoeg.

Na afloop van die hofsaak het die pastoor en gemeentelede buite die hof saam hardop gebid terwyl hulle in ’n kring hande vasgehou het.

Log in with your credentials

Forgot your details?