Fietsryer sterf na kopbeserings

Saterdagmiddag-botsing in Voortrekkerweg

Carel Avontuur.  Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N FIETSRYER wat Saterdagmiddag omstreeks 14:40 in ’n botsing met ’n Volkswagen Jetta in Voor­trekkerweg, Oudtshoorn betrokke was, is Sondagmiddag aan sy bese­rings oorlede.

Volgens kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, was Carel Avontuur (55), ’n werknemer van Tfasa op Oudts­hoorn op sy fiets in ’n oostelike rigting in Voortrekkerweg op pad toe hy deur die Jetta getref is wat in ’n westelike rigting gery het.

Hy het kopbeserings opgedoen, en is na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.

Hy is Saterdagaand na George Hospitaal oorgeplaas, waar hy Son-dag aan sy beserings beswyk het.

Volgens Visser het die kopbese­rings wat hy opgedoen het, gely tot bloeding op die brein.

Visser sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

Avontuur se dogter, Roslyn Isaacs, sê sy gaan haar pa baie mis. “My pa was ’n baie eenvoudige mens met ’n goeie sin van humor.”

Avontuur word Saterdag om 09:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in 17de Laan, Bridgton begrawe.

Log in with your credentials

Forgot your details?