EU sê ja vir vleisuitvoer

Van die volstruise wat by ’n onlangse veiling van die Departement Landbou se jaarlikse volstruisveiling op Oudtshoorn verkoop is. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DAAR is groot verligting en opgewondenheid in die Klein Karoo nadat die Europese Unie (EU), die grootste verbruiker van Suid-Afrikaanse volstruisvleis, bekend gemaak het dat die verbod op die invoer van volstruisvleis opgehef is.

Die verbod is verlede jaar deur die EU ingestel omdat die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se residu-toetsprosedures nie aan die vereistes van die EU voldoen het nie.

“Ons is almal verskriklik opgewonde,” sê Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK). “Dit is vir produsente geweldig bemoedigende nuus te midde van die huidige moeilike landbou-omstandighede.”

Volgens Kleyn kan die uitvoer van gaar volstruisvleis onmiddellik hervat word, maar sal dit waarskynlik tyd neem om weer die mark terug terug te wen.

Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Beperk, sê hy en almal by Klein Karoo Beperk is opgewonde en dankbaar oor die opheffing van die verbod. “Alhoewel die buitelandse mark vir die klaargaar-vleisproduk weer van nuuts af ontwikkel moet word, behoort dit nou heelwat gouer te gaan om ons vroeëre vlakke van uitvoervolumes te haal waarna ons kan fokus op verdere markuitbreiding.

Die produsente het goeie nuus broodnodig – die opheffing van die verbod is een stukkie goeie nuus. Ons vertrou dat die tweede stukkie goeie nuus die eersdaagse verbreking van die droogte sal wees!”

Schoeman het die SAVBK bedank vir die groot rol wat hulle direk en indirek gespeel het om die verbod opgehef te kry.

Beverley Schäfer, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede het ook die nuus verwelkom.

“Die EU is die grootste mark vir volstruisvleis uit die Wes-Kaap en die verbod saam met die erge droogte in die Suid-Kaap en Karoo het ’n ernstige invloed op die volstruisbedryf gehad.”

Volgens Schäfer verskaf Suid-Afrika 75% van die wêreld se volstruisvleis met 80% van die land se volstruisvleis wat uit die Wes-Kaap kom.

Schäfer glo die opheffig van die verbod en die sukses van ’n volstruisveiling verlede maand is ’n teken dat vertroue in die volstruisbedryf herstel.

By die veiling wat deur die Departement van Landbou by die Oudtshoorn Proefplaas aangebied is, is 166 uitgesoekte volstruisbroeivoëls verkoop teen ’n gemiddelde prys van R5 500, heelwat hoër as die prysgemiddeld van R4 100 verlede jaar.

Die volstruise is deel van die Proefplaas se kudde en word jaarliks deur die departement verkoop sodat die bedryf kan baat by genetiese vooruitgang as gevolg van die plaas se programme.

“Vanjaar se veiling toon dat volstruisprodusente bereid is om in broeivoëls te belê,” sê Schäfer.

Die hoogste prys van R9 200 is behaal vir ’n tweejaaroue wyfie met ’n hoë teëlwaarde vir gewig. Die hoogste prys vir ’n mannetjie was R6 000.

Log in with your credentials

Forgot your details?