Ek is Oudtshoorn gaan nou hier besoekers verwelkom

Die Ek is Oudtshoorn-teken wat nou by Oudtshoorn se ingang vanaf Calitzdorp en Mosselbaai opgerig gaan word. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE groot Ek is Oudtshoorn-teken wat tydens die KKNK in die Kuierbuurt gestaan het, gaan op voorstel van inwoners by die westelike ingang van Oudtshoorn opgerig word.

Die meerderheid inwoners het in op verskeie platforms waar hulle gevra is vir voorstelle oor waar die Ek is Oudtshoorn-teken opgerig moet word, die ingang vanaf Calitzdorp en Mosselbaai voorgestel.

Die Hoorn het die vraag op ons Facebook-blad ook aan lesers gevra, waar die meerderheid ook die betrokke ingang voorgestel het. Een van die redes wat inwoners hiervoor verstrek het, was dat die meeste toe­riste aan Oudtshoorn die dorp by dié ingang binnery.

Twee soortgelyke Ek is Oudtshoorn-tekens is reeds op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat asook by die Toerismekantoor in Voortrekkerweg opgerig.

Die drie tekens is deur die Oudts­hoorn Besigheidskamer laat maak en befonds as deel van hul Ek is Oudts­hoorn-inisiatief.

Jaco Vorster, bestuurslid van die Besigheidskamer, sê die derde teken sal opgerig word in die omgewing waar inwoners kort voor die KKNK ’n verwaarloosde verkeerseiland verfraai het. Volgens hom is die oprigting van die Ek is Oudtshoorn-tekens ’n proses wat voortgaan en sal inwoners weer in die toekoms geraadpleeg word en die ander ingange van die dorp ook aan die beurt kom.

Log in with your credentials

Forgot your details?