Effense beterskap vir Liezl Meyer

Liezel Meyer (18) en haar hondjie.

Liezl Meyer (18) en haar hondjie.

DIT gaan vandag ’n bietjie beter met die agtienjarige Liezl Meyer van Oudtshoorn wat Dinsdag op die Mosselbaaipad in ’n motorongeluk betrokke was, sê haar pa, Doelie Meyer.

“Maar sy is nog steeds onder sterk verdowing in die hoësorgeenheid van die George MediClinic. Sy kan haar arms en bene beweeg, maar haar brein moet rus. Sy het Donderdag met fisio begin. Die dokters is positief.”

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudsthoorn Polisie, het Liezl se voertuig Dinsdag omstreeks 16:51 gerol en in bosse langs die pad beland. Liezel en haar Labrador-hondjie van drie maande was alleen in die voertuig. Die hondjie is ongedeerd.

Haar pa sê rukwinde het na bewering die wit Opel Corsa van die pad gestoot. Haar toestand is tans stabiel.

Meyer vertel dat sy twee breinoperasies moes ondergaan as gevolg van beserings aan haar skedel. Haar linkerarm is ook beseer.

Liezel se ma, Hannelie, het vanoggend gesê dit is ’n verskriklike ervaring vir ’n ouer om hul kind in so ’n toestand te sien.

“Ons wil graag baie dankie sê aan almal in Oudtshoorn wat ons ondersteun. Sonder jul gebede sal ons nie deur hierdie donker tyd kan kom nie.
“Dit is ongelooflik hoeveel mense ons ondersteun. Ons moet aanhou glo en bid dat Liezl spoedig sal herstel.” (Berig deur Ilze-Mari Gründling)

Log in with your credentials

Forgot your details?