Eerste konsert slaan asems weg

Die afwagting onder die groot gehoor net voor die aanvang van die eerste Klassieke Klein Karoo Kersfees Saterdagaand was tasbaar. Die konsert met twee van die grootste stemme in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, Corlea Botha (links, tydens die konsert) en Kevin Leo, asook ’n klassieke orkes en koor het op die granaatplaas Celebratio tussen Oudtshoorn en Calitzdorp plaasgevind. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
WONDERLIK! Fantasties! Verruklik!
Dit was van die byvoeglike naamwoorde waar­mee konsertgangers Saterdagaand se Klein Karoo Klassieke Kersfees beskryf het.

En watter ervaring was hierdie nie vir die digby 700 konsertgangers wat dié eerste musiekkonsert by Celebratio, uitvoer-granaatplaas van Gerhard Meyer langs die sementpad buite Oudtshoorn, byge­woon het nie. Konsertgangers was nie net beïndruk deur die kunstenaars Corlea Botha en Kevin Leo nie, maar ook deur die venue en die goeie organisering en sekuriteit by die konsert.

Die goeie nuus is dat nog konserte op Celebratio gaan volg. Volgens Meyer sal meer konserte in die somermaande op die plaas aangebied word.

Meyer, wat met granate en vye boer, het verlede jaar na die Klein Karoo verhuis.

Hy is ’n ou hand as dit kom by die reël van fees­te en konserte. Hy het die Cultivaria-fees in die Paarl op die been gebring en dit etlike jare sukses­vol aangebied. Hy het die 5 000-sitplek-amfiteater by die Taalmonument in die Paarl, wat 30 jaar lank in onbruik was, laat herleef met verskeie konserte deur onder andere internasionale kunstenaars. Die konsert wat by Celebratio aangebied is, is die afgelope ses jaar in die Paarl en Hartenbos aangebied.

Meyer sê hy is tevrede met die opkoms by dié eerste konsert by Celebratio. “Dit is egter nie waaraan ons gewoond is nie en ons sal die volgende keer tussen 800 en 1 000 mense wil lok”

Volgens Meyer wou hy meer as net ’n goeie kon­sert aanbied. Hy wou iets aanbied wat mense positief kon stem, hoogstaande kwaliteit kon bied maar steeds finansieel toeganklik was. Hy wou ook ’n ekonomiese geleentheid skep vir plaaslike restaurante en ’n standaard stel met kos en wyn. “Ons wou met die produksie iets vir die gebied beteken – een van die streke waar dit tans seker die swaarste gaan.”

Meyer het almal bedank wat die konsert bygewoon het. “Ek glo diegene wat hul vertroue in ons ge­stel het om die eerste vertoning by te woon, sal in die toekoms ons grootste adverteerders wees.”

James King, ’n prokureur van Oudtshoorn wat die vertoning bygewoon het, sê die aand by Celebratio was van uitstaande gehalte. “Ek dink Gerhard Meyer het baie waagmoed om so ’n groot projek aan te pak, en ons moet hom aanmoedig om dit weer te doen. Hy verdien ons almal se onder­steuning.

“Dankie ook vir Die Hoorn se betrokkenheid.”

Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel, sê die aand was ’n onvergeetlike ervaring. “Corlea Botha het seker een van die mooi­ste sopraanstemme in ons land en elders. Wat ’n voorreg om na haar en Kevin Leo te luister onder die sterre van die Klein Karoo.

“Celebratio, die venue waar ons bederf is met dié uitstekende vertoning, het nie ’n voet verkeerd gesit nie. Die klank was van baie hoë gehalte, die beligting doeltreffend, en die kos- en wynaanbie­ding uit die boonste rakke.”

Nog ’n Oudtshoorniet, Suné Rupping, sê die gehalte van die klank, die uitsig, verhoog en musiek wat by Klassieke Klein Karoo Kersfees aangebied is, het alle verwagtinge oortref. “Dit was beslis die moeite werd om dit by te woon.”
Op Facebook het baie konsertgangers ook kommentaar gelewer. So het party geskryf:
Sarel du Plessis: “Dankie vir die puik organi­sasie en die uitstekende kunstenaars! Dit was ’n aand om te onthou op die pragplaas!”
Neil Saayman (Karooboom): “Dankie, Gerhard Meyer, vir die vertoning en geleenthede wat julle geskep het. Dit was verruklik.”
Mariette en Stoffel Prinsloo: “Nie in 24 jaar by die KKNK so ’n puik vertoning beleef nie.”
Hellen Coetzee: “Dit was ’n wonderlike belewenis en die mooiste venue! Kevin en Corlea was hoendervleis-mooi.”
Louise Swift: “Dit was ’n geseënde aand. Sien uit na nog meer. Gaste uit Gauteng wat daagliks vertonings bywoon, sê dit was die beste!”

Log in with your credentials

Forgot your details?