Eerste huise oorhandig

Dirk Stolz (derde van links) saam met van links wyksraadslid Jerome Lambadjeen, burgemeester Colan Sylvester en minister Bonginkosi Madikizela, die Wes-Kaapse minister vir menslike nedersettings. Foto verskaf

Volgens Madikizela is die behuisings­nood oral verstommend. In die Wes-Kaap is die agterstand sowat 600 000 en landwyd meer as 2,2 miljoen.

Deur Garnett Wicomb
DIE sleutels van die eerste 12 van 332 huise in Fase 3 van die Rose Valley-behuisingsprojek op Oudtshoorn, is Dinsdag deur die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, aan hul eienaars oorhandig.

Madikizela het die ontvangers geluk gewens en bygevoeg dat dit die regering se manier is om waardigheid te herstel en ook die onregverdigheid van die verlede reg te stel,

Hy het die Oudtshoorn Munisipaliteit lof toegeswaai vir wat die raad doen ten opsigte van behuising en hulle versoek om daarmee voort te gaan.

“Dit wil voorkom asof ons net op Oudts­hoorn huise bou,” het Madikizela gesê.

Hy het sy kommer uitgespreek oor die feit dat so baie jongmense huise kry terwyl daar bejaardes is wat reeds lank op die waglys is.

“Dit is iets waarna ons sal moet kyk,” het hy gesê.

Volgens Madikizela is die behuisings­­nood oral verstommend. In die Wes-Kaap is die agterstand sowat 600 000 en landwyd meer as 2,2 miljoen.

Die 332 huise wat nou in aanbou is, is volgens die burgemeester, Colan Sylves­ter, deel van die munisipaliteit se Rose Valley-behuisingsprojek wat vroeër vanjaar die provinsiale Govin Mbeki Mens­like Nedersettingsprys vir die beste infor- mele nedersettingsopgradering gewen het.

Hy het gesê die Oudtshoorn munisipa­liteit is voortdurend besig om behuisingsgeleenthede aan inwoners te verskaf wat dit die nodigste het. Sylvester het ook Madikizela namens die munisipaliteit bedank vir die besondere rol wat hy speel om dienslewering op Oudtshoorn te ver­seker.

Fase 3 behoort teen einde Maart 2019 voltooi te wees. Die Rose Valley-behuisingsprojek het in 2014 begin met die bou van 299 huise. Fase 2 was ’n verdere 335 wooneenhede en Fase 3 was 332 huise, ’n totaal van 966.

Wyksraadslid Jerome Lambadjeen het in sy verwelkoming die geleentheid as geskiedkundig en vreugdevol beskryf.

“Om in jou eie huis te slaap is elke mens se droom. ’n Huis is ’n wonderlike ba­te. Dit beteken so baie, veral vir die wat voorheen benadeel is en onder bosse moes slaap. Dit kan ook van geslag tot geslag oorgedra word,” het Lambadjeen gesê.

Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, het met die bedanking van al die rolspelers beklemtoon dat bejaardes en ge­stremde persone voorkeur behoort te geniet by die toekenning van huise.

Die 60-jarige Dirk Stolz was die eerste wat sy huis van die minister ontvang het.

“Ek is in die wolke maar ook hartseer omdat my vrou, wat so uitgesien het na dié oomblik, ’n paar jaar gelede oorlede is en nie die vreugde saam met my kan deel nie,” het hy gesê.

Ook Piet en Cecelia Bezuidenhoudt, wat 15 jaar op die waglys was, het breed geglimlag.

Log in with your credentials

Forgot your details?