Dronkbestuurder beboet en rybewys vir twee jaar lank opgeskort

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Waaikraal, Dysselsdorp, wat aan dronkbestuur skuldig bevind is, is in die landdroshof op Oudtshoorn ’n stywe boete opgelê en sy rybewys vir twee jaar kwyt.

Landdros Roelf Konstabel het aan die 53-jarige James Erasmus, wat nie ’n eerste oortreder is nie, gesê dat hy op sy ouderdom darem nou al moes geluister het wat die howe sê.

Konstabel het bygevoeg dat die vonnis wat opgelê word, moet dien as afskrikmiddel vir ander mense wat voertuie onder die invloed van drank bestuur.

Volgens Konstabel veroorsaak sulke bestuurders dikwels ongelukke waarin mense seerkry, sterf of verlam word.

Erasmus is gevonnis tot ’n boete van R8 000 of 24 maande gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is al voorheen onbevoeg verklaar om ’n vuur­wapen te besit.