Droë Klein Karoo steeds in moeilikheid

Spore van skade wat rukwinde Sondagoggend op Oudtshoorn aangerig het. Foto bo is ’n eikeboom in Langenhovenweg, die Jesus-tent (foto onder) en die relings van die brug in Voortrekkerweg (foto heelonder).

Liesel le Roux en Angelique Erasmus
MET ondergemiddelde winterreën en laer as verwagte reën die afgelope naweek moet niemand dink die droë Wes-Kaap is uit die moeilikheid nie, sê Jannie Strydom, uitvoe­rende hoof van Agri Wes-Kaap.

In die kritiek droë Oudtshoorn- en Kannaland-distrik het Sondag tussen 3 mm en 15 mm reën geval, in die Laingsburg-, Prins Albert- en Merweville-omgewing tussen 4 mm en 5 mm, en in die Beaufort-Wes-omgewing tussen 2 mm en 5 mm.

Met plaasdamme wat leeg bly, het Strydom gewaarsku dat die landbou gereed moet maak vir nog ’n moeilike seisoen. Besproeiingsdamme is rondom 50% vol of dolleeg met weiveld wat nie genoeg reën gekry het om te begin herstel nie.

“Die damvlakke van die Kammana­s­siedam (2%) en die Stompdriftdam (7,4%) wys duidelik op die enorme krisis waarin produsente van Klein Karoo hulle bevind. Produsente het dié damme nodig om onder meer lusern en uie- en lusernsaad te besproei en vir water vir vee.”

Volgens Strydom staan die Poortjies­kloofdam, wat vrugte- en wynprodusente in die Kannaland-gebied vir besproeiing nodig het, op 0,2% en die Keeromdam wat produsente in die Koo en Nuy-vallei vir besproeiing nodig het, op 16,7%.

Hy sê Agri Wes-Kaap gaan voort om droogtehulp aan veeprodusente te lewer, en die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds gaan ook nou humanitêre hulp aan produ­sente en hul plaaswerkers in die droogte­geteisterde gebiede moet verleen.

• Die sowat 6 tot 24 mm reën wat Sondag in in die Klein Karoo tussen Ladismith en Meiringspoort geval het, het inwoners van die streek egter die eerste keer in ’n lang tyd weer ’n goeie reënbui laat ervaar.

Op Oudtshoorn het die reën ook ge­paard gegaan met ’n sterk stormwind Sondagoggend wat groot skade in en om die dorp veroorsaak het.

In Volmoed buite Oudtshoorn het die wind die dakke van huise afgewaai terwyl huise in Bongulethu ook beskadig is. ’n Gedeelte van Wesbank en Langenhovenweg was lank die dag sonder elektrisiteit.

Die Jesus-tent agter die De Jager Sportkompleks het ineengestort nadat ’n rukwind deur die tent gewaai het. Slegs twee vroue is lig beseer.

Volgens past Corrie Greeff van One Life-bediening op Oudtshoorn wat ook die tentdienste georganiseer het, was die ervaring een wat hom altyd sal bybly.

“Dit was tydens die laaste lied wat ’n massiewe rukwind deur die tent gekom het,” vertel hy. “Die wind was so sterk dat ’n paar van die tent se ankerpenne gebuig het. Toue het gebreek en twee dik maspale het geknak,” sê Greeff.

Volgens Greeff is die tent deur kenners opgerig en geïnspekteer, en is dit die rede waarom daar nie ernstige beserings was nie. Hy was ook vol lof vir noodpersoneel wat blitsvinnig op die toneel was en hulp verleen het.

“My telefoon het nog nie ophou lui vandat dit gebeur het nie. Ons is oorwel­dig deur die gemeenskap se steun,” sê hy.

Net daar naby langs die Voortrekkerwegbrug oor die Grobbelaarsrivier het die wind ’n groot kennisgewingbord van die Hoërskool Oudtshoorn afgeruk en het dit die relings van die brug platgeval, terwyl verskeie bome in die omgewing en ook elders op die dorp omgewaai is.

Log in with your credentials

Forgot your details?