Drie sterf in gru-ongeluk

’n Verbyganger kyk Saterdag na die wrak van die Toyota Camry waar dit op die Kredouwpas tussen Klaarstroom en Prins Albert tot stilstand gekom het. (Foto verskaf.)

Shaun Adams.
Foto Facebook

Calvin Tarentaal.
Foto Facebook

Adriaan Neewat.
Foto Facebook

Deur Marlene Malan
TWEE inwoners van De Rust en een van Prins Albert is Saterdag in die vroeë oggendure dood toe ’n Toyota Camry in die Kredouwpas tussen Prins Albert en Klaarstroom die pad verlaat en omgeslaan het.

Die bestuurder van die motor het na bewering om ’n draai teen ’n afdraand beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die bergwand getref, omgeslaan en op sy dak beland het.

Adriaan Neewat (47) van Prins Albert, en Shaun Adams (20) en Calvin Tarentaal (in sy 20’s) van De Rust het aan veelvuldige beserings gesterf.

Die bestuurder, wie se naam nie bekend is nie, en Neewat se dogter, Lesley-Ann (ook in haar 20’s), is eers in die Prins Albert Hospitaal opgeneem en daarna na ’n hospitaal op George oorgeplaas. Lesley-Ann is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Die vyf was op pad na Prins Albert waar hulle die volgende dag die mon­digwordingspartytjie van Niketa Neewat, Lesley-Ann se suster, sou bywoon. Tarentaal was Lesley-Ann se vaste vriend. Sy het by hom op De Rust gekuier, waar haar pa en die motorbestuurder die jongmense vir die geleentheid gaan haal het. Adams en Tarentaal is jarelange vriende.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voerder van die Suid-Kaapse Polisie, het die ongeluk Saterdag-oggend omstreeks 01:30 plaasgevind.

Truitjie Stols, Adriaan Neewat se suster, het Dinsdag aan Die Hoorn gesê begrafnisreëlings was toe nog nie bekend nie. Sy het vertel van die hartseer en verlies waarin die hele familie onverwags gedompel is.

“Ons maak nog reg vir ’n mondigwording, toe gebeur dít. Nekita het dadelik gesê sy sien nie kans om voort te gaan met haar verjaar­dag­viering Saterdagaand in Prins Albert se gemeenskapsentrum in Noord­einde nie. Alles is gekanselleer. Nou is daar begrafnisse pleks van ’n verjaardagpartytjie.”

Neewat word ook oorleef deur sy vrou, Caroline, twee seuns, Adriaan en Austen, en sewe broers en susters. Hy en sy gesin het in Junie van Worcester na Prins Albert verhuis om nader aan van hul familie te wees. Hy het egter steeds op Worcester gewerk en tussen die twee dorpe gependel.

Die Polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

Log in with your credentials

Forgot your details?