Deur Garnett Wicomb
DRIE mans van Dysselsdorp wat onderskeidelik aan verkagting, roof en besit van gesteelde goedere skuldig bevind is, is Donderdag ná drie jaar in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind en gevonnis.
Selwyn Jacobs (19) is daaraan skuldig bevind dat hy ’n ma van drie kinders – wat saam met haar vriend van ’n nagklub op pad was huis toe – verkrag het.
Dondy-Hago Pedro (24) is daaraan skuldig bevind dat hy haar vriend, Henry Majolo (25), van R30 en sy selfoon beroof het, terwyl Clive Prins (22) vir die besit van gesteelde goedere skuldig bevind is. Die selfoon is in sy besit gekry.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging in ag geneem dat die drie skuldig gepleit het. Hoewel Pedro en Prins ook op die toneel was, het hulle nie deelgeneem aan die verkragting nie.
Die vrou het in ’n slagofferverslag gesê sy is diep seergemaak en verneder. Sy voel nie meer veilig om alleen rond te stap nie. Sy kon eers drie dae na die voorval iets eet.
Majolo het getuig dat hy baie sleg en skuldig voel, omdat hy weggehardloop het om hulp te gaan soek en nie sy vriendin gehelp het nie.
Volgens die landdros is inbreek gemaak op die vrou se menswaardigheid en integriteit. “Verkragting is verkragting en die hof het ’n plig om verkragters so te straf dat die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie. Daarby moet die oortreder en ook voornemende verkragters afgeskrik word.”
Hy het gesê Jacobs toon geen berou nie.
Volgens Boks is daar ’n verkeerde persepsie dat jeugdiges nie tronkstraf opgelê kan word nie
Jacobs , wat 16 was met die voorval en vanaf 13 dagga rook, is ingevolge die Kindergeregtigheidswet tot ses jaar gevangenisstraf in ’n Jeugsorgsentrum gevonnis.
Pedro en Prins, wat nie eerste oortreders was nie, se optrede getuig van wetteloosheid en bar-baarsheid, het Boks gesê. Volgens hom sal opgeskorte vonnisse die verkeerde boodskap uitstuur. Hy het albei tot 36 maande gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om vuurwapenslisensies te bekom.