Dorp het tans water vir 245 dae

Deur Liesel le Roux
VAN Oudtshoorn se openbare swembaddens is die afgelope week stil-stil vol water getap ten spyte daarvan dat die raad op Maandag, 8 Oktober, besluit het dat slegs die NA Smit Swembad met water gevul mag word.

Verskeie ontstelde inwoners het Die Hoorn hier­oor gekontak, maar volgens ’n verklaring wat die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit gistermiddag uitgereik het, het die dorp tans voldoende water hier­voor nadat damvlakke genoegsaam gestyg het.

Luidens die verklaring het die burgemeestersko­mitee by vergaderings op 12 en 13 November besluit om by die raad aan te beveel dat die muni­sipale swembaddens op 15 Desember oopgestel moet word. Dié besluit sal na verwagting voor 15 Desember deur ’n raadsbesluit bekragtig word.

Die burgemeesterskomitee beveel ook aan dat van die sportvelde of dele van sportvelde saans natgelei mag word sodat sportaktiwiteite daar kan voortgaan en sporttoerisme en die gepaardgaande ekonomiese voordeel vir die dorp nie in die wiele gery word nie. Dit sluit die Rec – die hoof­kwartier van SWD Krieket – die bane van die Oudtshoorn Rolbalklub, die kolfblad in Bridgton asook sport­velde in Bongolethu en Dysselsdorp. Gryswater sal gebruik word waar dit beskikbaar is.

Die verklaring dui aan dat die vlak van die Rau-benheimerdam gestyg het van net meer as 30% in Augustus toe die raad die munisipaliteit tot ramp-gebied verklaar en ’n moratorium op die opening van openbare swembaddens geplaas het, tot 47,27%, terwyl die Melvilledam 100% vol is. Die water in die twee damme is tans gelykstaande aan 52,27% van die kapasiteit van die Raubenheimerdam. Dit is genoeg water vir die volgende 245 dae.

Die verklaring lui voorts:
• Die water wat benodig word vir die dorp se vier swembaddens is sowat 40% van ’n dag se waterverbruik in die munisipale gebied.

• Die water wat gebruik sal word om sportvelde aan die gang te hou is sowat 0,15% van ’n dag se waterverbruik in die munisipale gebied.

• Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, is deur die burgemeesterskomitee opdrag gegee om die oopstelling van die swembaddens en natlei van sekere sportvelde met die Wes-Kaapse Regering te bespreek.

• Daar was talle versoeke van inwoners dat die swembaddens oopgestel moet word as gevolg van die erge somerhitte.

• Die Bridgton Swembad word tans herstel en sal voorlopig nie oopgestel word nie.

• Wagte is ook by swembaddens aangestel, vermoedelik om te verhinder dat water gesteel word en om vandalisme daar te voorkom.

Log in with your credentials

Forgot your details?