Donderdag in die hof: Magdaleen blameer hofgangers

Magdaleen Titus en haar regsverteenwoordiger, Henk Carstens, Donderdag in die hof, die tweede dag wat sy getuig het. Foto: Garnett Wicomb.

Deur Garnett Wicomb

Sy kan nie altyd lekker in die hof hoor nie vanweë die hofgangers se geraas, het Magdaleen (Maggie) Titus, vrou van die vermoorde soldaat Preston Titus gister op Oudtshoorn getuig in die saak teen haar en haar drie medebeskuldigdes, Justice Mooi, Natasha Stuurman en Masithembe January.

Titus kon onder kruisverhoor deur die staatsaanklaer, Christhénus van der Vijver, nie sê waarom sy dit nie aan haar vorige regsverteenwoordiger, adv Mustaque Holland, gestel het dat daar nie twee persone saam met Sixabiso Klip in haar motor was toe hy haar die aand van 29 November 2017 by haar huis kom haal het nie. Volgens haar het Holland nie alles aan Klip gestel wat sy aan hom oorgedra het nie.

“Die hofgangers maak geraas. Ek hoor nie alles nie,” het sy op ‘n vraag van die staatsaanklaer gesê . Volgens haar was dit net Klip en Justice Mooi wat in haar motor was en dat hulle onderweg na die woning van Natasha Stuurman ‘n onbekende persoon wat ‘n geleentheid gesoek het, langs die pad opgelaai het. Klip het die man glo geken.

Klip het onder kruisverhoor getuig dat hy vir Mooi en nog ‘n man by die begraafplaas opgelaai het nadat hulle met ‘n taxi vanaf Port Elizabeth gekom het.

Die staatsaanklaer wou van Titus weet of dit nie vreemd is dat Justice Mooi na Oudtshoorn gekom het terwyl hy geweet het dat hy op Beaufort-Wes by kerkdienste van Masithembe January (MJ) moes wees nie. Sy het hierop geantwoord dat dit January se reëling was en sy nie daarteen wou gaan nie.

Die hof het gister ook tydens kruisondervraging deur January se regsverteenwoordiger, Louise Luterek, gehoor dat sy tussen 2 November en 28 November 2017 altesaam 193 oproepe na January gemaak het en hy haar 50 keer gebel het. Volgens haar het sy MJ baie gebel omdat sy erg verlief was. Haar man het nie van die verhouding geweet nie maar Klip wel.

Hofgangers se oë het gerek toe Titus getuig het oor haar bedrywighede as ANC-raadslid en Klip se gebruik van haar selfoon. Volgens haar het Klip nie haar selfoon tydens raadsvergaderings gebruik nie maar wel tydens koukusvergaderings “omdat nie amptelik is nie”.

Titus het onder kruisverhoor erken dat sy nie ‘n alibi het vir die aand van die moord op haar man nie en ook dat daar geen gedwonge toegang tot die woning was nie. “Twee deure en ‘n venster was wel oop,” het sy gesê.

Sy het nie met die staat saamgestem dat Klip betrokke was by die moord op haar man nie, maar kon nie antwoord op ‘n vraag waarom hy dan, as onskuldige, skuld sal beken en vir vyftien jaar in die tronk gaan sit nie,

Titus het voorts ook getuig dat sy nie alles kan onthou waarvoor sy Mooi gebel of hy vir haar op 28 en 29 November 2017 nie. Sy kan wel onthou van ‘n klerepakkie wat hy vir haar vanaf Port Elizabeth moes saambring.

Die staatsaanklaer het dit aan die einde van die dag aan haar gestel dat sy haar getuienis “opmaak so ver sy gaan”. So ontken sy dat sy teenwoordig was toe Klip vir Mooi by die begraafplaas gaan haal het, terwyl haar selfoonrekords by Klip se getuienis inpas dat sy saam met hom was. .

Titus (42) en haar medebeskuldigdes – Natasha Stuurman (38), Justice Mooi (30) en Masithembe January (23) – word van moord met voorbedagte rade en regsverydeling aangekla.

Die saak dien voor regter Nolwazi Boqwana en hofverrigtinge word Vrydag om 10:00 hervat met Titus wat steeds onder kruisverhoor is.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?