Dondas vir vyf jaar tronk toe

Deur Garnett Wicomb
’N VROU wat haar lewensmaat met ’n mes in die nek gesteek het waarna hy gesterf het, is in die Oudts­hoorn Streekhof vir vyf jaar tronk toe ge­stuur nadat sy aan strafbare manslag skuldig bevind is.

Daphne Dondas (35) het erken dat sy op 10 Junie verlede jaar vir Arnold Titus (34) in hul wo­ning in Black Joint, Bongolethu, met ’n mes ge­steek het nadat hy haar herhaaldelik met ’n sambok geslaan en gedreig het om haar met ’n swaard te steek.

Sy het getuig dat sy Titus net een keer gesteek het, maar kon nie verduidelik hoe hy ’n tweede wond aan sy wang opgedoen het nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê Dondas het die grense van selfverdediging oorskry en haar aan strafbare manslag skuldig bevind. Sy het genoeg tyd gehad om te vlug toe die oorledene sy sambok in die kamer gaan haal het en sy, volgens haar eie getuienis, opgemerk het dat die slot aan ’n ketting waarmee die deur toegemaak word, nie toegedruk was nie. Sy het die sambok by die oorledene gegryp, onder haar linkerarm vasgedruk en toe die mes op die tafel met haar regterhand gegryp en een keer na agter gesteek.

Haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig gevra. Volgens hom was Dondas geregtig om haarself te beskerm.

Botha het toegegee dat ’n mens se lewe nie goedkoop is nie, maar gesê die oorledene se dood was in ’n mate sy eie skuld.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Dondas aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is en nie juis enige berou toon nie.

Titus se moeder, Maria, het ter strafverswaring getuig dat Dondas nie die waarheid ten opsigte van die versorging van haar twee kinders gepraat het nie en haar ook nie om verskoning gevra het vir wat sy gedoen het nie.

Haar seun was die broodwinner wat ook vir haar gesorg het, het sy getuig.

Log in with your credentials

Forgot your details?