Dis slangtyd in die Klein Karoo

Wou dié Kaapse kobra dalk op ’n warm Saterdagmiddag gaan inkopies doen by die Queen’s Mall op Oudts­hoorn? Hier is Oudts­hoorn se bekende slangvanger, Mornay Thysse, met ’n Kaapse kobra wat hy laatmiddag Saterdag uit die omgewing van Oxigym by die sentrum verwyder het. Die sentrum is langs die Grobbelaarsrivier op die dorp geleë. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
HY moes die afgelope ruk heelparty Kaapse kobras by huise en besighede op Oudtshoorn verwyder, sê Mornay Thysse, die Oudtshoorn Munisipa­liteit se bekende slangvanger.

Thysse moes Saterdagmiddag omstreeks 18:30 ’n Kaapse kobra by die Queen’s Mall op die dorp verwyder en dit buite die dorp in die veld gaan vrylaat.

Dinsdag het hy ’n Kaapse kobra by die Safari Vol­struis­plaas verwyder.

Hy sê hoewel hy nog nie dié somer so baie oproepe vir die verwydering van boomslange en pofadders ontvang het nie, moes hy wel al enkeles gaan verwyder, onder meer onlangs boomslange by Klapperbosrant en Gwarriestraat en ook twee klein pofadders in Bergsig.

“Kaapse kobras is egter tans die bedrywigste.”

Thysse sê die huidige droogte en hoë temperature asook gebrek aan water in die veld veroorsaak dat slange rondbeweeg op soek na water, kos en skaduwee.

Hierdie slange sluit die Klein Ka­roo se giftige slange soos die Kaap­se kobra, die pof­adder en die boomslang in.

Hou die volgende wenke in gedagte tydens die somer in die Klein Karoo:
• Moenie ’n slang probeer doodmaak, vang of aan dit vat nie. ’n Slang sal homself verdedig as hy bedreig voel.
• Hou die hele tyd ’n oog op die slang tot hulp opdaag.
• As die slang in jou blyplek is: Maak die deure en vensters toe om te verhoed dat hy ontsnap.
• Stel jou bure in kennis as daar ’n slang op hul erf is en dat hulp op pad is.
• Hou kinders en diere weg van slange.
• Moenie paniekbevange raak nie.

Nog wenke om jou huis te beveilig:
• Onthou water lok slange. Moet byvoorbeeld nie troeteldiere se kos en water buite laat rondstaan nie.
• Moenie deure en vensters onbewaak ooplos nie.
• Sifdraad voor hekke en iets soos ’n handdoekrol voor die gleuf onder buitedeure kan ook slange uithou.

Bewaar dié kon­taknommer vir die verwydering van slange:
Die munisipaliteit kan alle ure gekontak word vir die verwydering van slange. Die betrokke telefoonnommer is 044 203 7800.