Diewe vas wat rekenaars, kluis en karkasse steel

Ewald Watson in sy kantoor waar twee rekenaars en ’n kluis met R30 000 kontant gesteel is.                                   Foto: Wyndham Ewerts

Ewald Watson in sy kantoor waar twee rekenaars en ’n kluis met R30 000 kontant gesteel is. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
DIE Oudtshoorn Polisie het vandeesweek gou gespeel om drie verdagtes vas te trek nadat vleis, karkasse, vyf rekenaars, ’n kamerastelsel, ’n CD-speler, ’n kluis met R30 000 kontant daarin, ’n skootrekenaar asook nog R15 000 se kontant Maandag in die vroeë oggendure by Watson & Sons Slaghuis in Dassieweg in Bridgton gesteel is.

Volgens Perly Winster, toesighouer by die slaghuis, het sy die diefstal ontdek toe sy Maan­dag­oggend die slaghuis se deur wou oopsluit en opgemerk het dat dit reeds oopstaan.

“Ek was te bang om in te gaan omdat dit nog donker was en die boewe dalk binne die perseel kon wees,” sê Winster.

Sy het die eienaar, Ewald Watson, gekontak wat op sy beurt die polisie ontbied het.

“Ons het die slaghuis in absolute chaos gevind met vleis wat oral versprei gelê het. Die perseel was geplunder,” sê Winster.

Volgens haar was alles die Sondagmiddag om 16:00 nog in orde by die slaghuis.

Watson sê hy het amper in trane uitgebars toe hy gesien het hoe die slaghuis verniel is.

Die diewe het toegang tot die perseel gekry deur die veiligheidshekke oop te breek.
“Saterdagmiddag net voor uitvaltyd wou ons soos gewoonlik die alarm aktiveer, maar dit het gewanfunksioneer.

“Ek het toe ons sekuriteitsmaatskappy ontbied wat dit kom regstel het.
“Met Sondag se beurtkrag het die alarmseine waarskynlik nie meer geopereer soos dit moes nie,” sê Watson.

Watson het groot lof gehad vir die polisie se flink diens wat tot die opsporing van verskeie van die gesteelde goedere en die inhegtenisneming van drie verdagtes gelei het.

• Volgens Winster het ’n man wat Maandag­oggend met ’n swart sak verby die slaghuis geloop het, gehelp dat die saak vinnig opgelos is.

“My instink het my om die een of ander rede gemaan om hom te agtervolg tot by ’n supermark naby ons.

“Die man het daar sy oë vir ’n paar minute van die swart sak afgehaal wat my die geleentheid gebied het om binne-in die sak te loer.

“Ek was geskok toe ek sien dat dit sowaar ons vleis was binne-in die sak met ons naamplakkers steeds op die vleis!”

Die man het daarna na Dahliahof gestap en toe hy by ’n huis in die straat ingaan, het Winster een van die speurders gebel.

“Hy het onmiddelik gekom na ek hom gebel het en die verdagte op heterdaad betrap.”

Winster sê die polisie het hulle Dinsdag ingelig dat nog twee ver­dagtes in hegtenis ge­- neem is.

Die polisie het volgens haar ook twee re­kenaars, die kamera­- stelsel, die CD-speler en bykans R300 se gerookte vleis terug­gevind.

Log in with your credentials

Forgot your details?