Die ANC skuif Maggie uit

Maggie Titus.  Foto: Angelique Erasmus

Deur Liesel le Roux
DIE ANC-raadslid Magdaleen (Maggie) Titus van Oudtshoorn mag nie meer aan enige ANC-party-aktiwiteite deelneem nie.

Die besluit is verlede Maandag (12 November) deur die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) geneem. Titus, wat tans saam met drie an­der beskuldigdes tereg staan vir die moord op haar man, Preston Titus, is volgens ’n persverklaring van Faiez Jacobs, sekretaris van die Wes-Kaapse ANC, nie meer welkom by enige aktiwiteite op tak-, streek- of provin­siale vlak nie.
Titus is vroeër vanjaar as lid van die Wes-Kaapse PUK geskors nadat sy van die moord aangekla is.

“Omdat die hofsaak nog aan die gang is, is besluit om haar nie as raadslid te verwyder voordat dit afgehandel is nie,” sê Jacobs.
“Ons doen ’n beroep op ons lede en ondersteu­ners asook die breër gemeenskap wat woedend is oor hierdie aanklagte, om geduldig te wees terwyl ons die howe toelaat om hul werk te doen en te verseker dat geregtigheid plaasvind.”

• Titus en die ander drie aangeklaagdes, Na­tas­hia Stuurman, Masimthembe (MJ) January en Justice Mooi, sal van 25 Februarie tot 22 Maart 2019 in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn verhoor word.

’n Voorverhoor ter voorbereiding van die hooggeregshofsaak wat verlede week in George sou plaasvind, het nie gerealiseer nie.

Garnett Wicomb berig dat die voorverhoor van die vier verdagtes uitgestel is nadat twee regsverteen-­woordigers hulle aan die saak onttrek het.

Regter Mark Sher het die voorverhoor tot 29 November uitgestel nadat Mooi en January se regsverteenwoordigers hulle glo onder meer weens onvoorsiene omstandighede en kwessies met hul betaling aan die saak onttrek het.

Die regter het dit aan die beskuldigdes gestel dat die verhoor op 25 Februarie 2019 op Oudtshoorn sal begin, of hulle nou regsverteenwoordiging het of nie.

Die vier word van moord met voorbedagte rade aangekla.

Mooi word aangehou terwyl sy mede- beskuldigdes op borg is.

Log in with your credentials

Forgot your details?