Daar word geklim en geklouter by Pierewiet

Die kleuters van Pierewiet Crèche saam met van die Oudts­hoorn Rotariërs by hulle lekker groot klimraam op die skool­tjie se opgegra­deerde speelterrein.

Bo en onder: Gedeeltes van die nuwe speelterrein.

Deur Liesel le Roux
BY die Pierewiet Crèche in Volmoed buite Oudts­hoorn speel die kleuters tans met oorgawe nadat die Oudtshoorn Rotariërs dié skooltjie se speelterrein opgeknap het.

Die bou van die skoolgebou was ’n inisiatief van die Oudtshoorn Rotariërs en die skoolgebou is in Oktober 2016 amptelik in gebruik geneem.

Dit het ontstaan uit ’n speelgroep wat die skoolhoof, Elbé Slabbert, 26 jaar gelede begin het. Dié skooltjie is vir haar ’n droom wat waar geword het, het sy gesê.

Verlede Donderdag is die opgegradeerde skool­terrein amptelik bekendgestel terwyl die kleingoed geklim, gekruip, gerol, gehang, gegly en geklouter het!

Die opgegradeerde speelterrein spog met ’n groot en veelsydige klimraam met ’n glyplank, ’n onderdak-stoep met kunsgras waarop daar met oorgawe gerol en gespeel kan word – ook in die warm somers – terwyl die res van die terrein ont­wikkel is om ’n “dorpsplein” voor te stel – met onder meer ’n “taxi” waarin die kinders kan “bestuur en saamry”, “winkeltjies” en oorgenoeg plek om te sit en klouter.
Die meeste apparaat is van verskillende groottes buitebande en kleurvol geverf.

“Dit is vir ons as Rotariërs ’n voorreg om ’n verskil te kan maak in kinders en die toekoms van ons land,” sê Suné Rupping, voorsitter van die Oudts­hoorn Rotariërs.

“Om te sien hoe Pierewiet se kleuters die nuwe speelterrein geniet, is iets wat ons as Rotariërs se harte warm laat klop!

“Baie dankie aan almal wat so ’n groot bydrae gelewer het om hierdie moontlik te maak.”

Log in with your credentials

Forgot your details?