Chandelier kry spog-buffelbul!

Een van die grootste en mooiste buffelbulle in die Wes-Kaap loop nou op die Chandelier Wild- en Volstruisplaas net suid van Oudtshoorn tussen die plaas se vroulike buffels rond! Ontmoet die 6-jaaroue Hasani, wat afkomstig is van een van die beste bloedlyne in die land. Lees meer op bladsy 6 oor Hasani wat sy eienaar, Gerrie Ferreira, net meer as R1miljoen uit die sak gejaag het en verlede Donderdag op Chandelier afgelaai is. By die buffel is van links Ockie Nel (Chandelier Buffelstoet), dr Kgopa (Limpopo-staatsveearts), asook Malan, Ellalien, Colin en Rodney Davey van Romaco Ranch in Limpopo. Foto verskaf

Bo: Hasani, ’n 6-jarige buffelbul wat verlede week op Chandelier Wild- en Volstruisplaas aangekom het nadat die Chandelier Buffelstoet dié spogbul in Limpopo vir sowat R1miljoen gekoop het.

Die gouewildebees Botsi, wie se nasate ook verlede week op Chanderlier aangekom het. Die gouewildebees is ’n kleurvariant van die blouwildebees.

Dié jong swart-witpensbul, Midnight, seun van Rapella wat as die top Matetsi-swartwitpensbul in Suid-Afrika beskou word, kom van Burkea Wild in Limpopo af.

Deur Schalk le Roux
EEN van die grootste en mooiste, “indien nie die mooiste nie”, buffelbulle in die Wes-Kaap loop nou op die Chandelier Wild- en Volstruisplaas net suid van Oudtshoorn tussen die plaas se vroulike buffels rond.

Die sesjaar-oue Hasani, wat af­komstig is van een van die beste bloedlyne in die land, het die Chandelier Buffelstoet sowat R1miljoen uit die sak gejaag en is verlede Donderdag op Chandelier afgelaai.

Hasani, wat van die Oos-Afrika-bloedlyn afkomstig is, is by Romaco Ranch naby Vaalwater in Limpopo aangekoop om vir die plaaslike en uitvoermark te teel.

Ellalien Davey, eienaar van Romaco Ranch, is in 2013 as WRSA se Wildboer van die Jaar aangewys.

Gerrie Ferreira, eienaar van Chandelier, se skoonseun en vennoot, Ockie Nel, sê volgens die Rowland Ward-wildme­tingsmetode is Hasani se ho­rings op sy breedste punt 117 cm (46,5 dm) breed. Die Rowland Ward-standaard vir trofeebuffelhorings is 42 dm.

Volgens Safari Club International (SCI) se metingsmetode is Hasani se horings 1282/8 dm (325,75 cm) teen-oor die SCI-standaard van 101dm (256,54 cm). Die SCI-metingsmetode is ontwerp om nie net die breedte (van kant tot kant) van die horings te bepaal nie, maar om die totale omvang en volume van die ho-rings aan te dui. Dit neem die breedte, dikte bo die kop en die vorm (krul ingesluit) in ag.

Hasani loop nou tussen Chandelier se 20 ander buffels, waarvan 17 vroulike diere is, in spesiale teelkampe rond. Volgens Ferreira is al Chandelier se buffels deur homself met die hulp van kundiges uitgesoek met die oog op hoë genetiese gehalte en vir teëldoeleindes.

Ferreira, wat al 23 jaar lank wild uitvoer, sê hy het Hasani gekoop om sy nageslag uit te voer.

• Benewens Hasani het Ferreira nege suiwer Matetsi-swartwitpense van vier vooraanstaande telers in Limpopo gekoop. “Die Matetsis het baie goeie genetika en is baie gesog vanweë hul skaarsheid,” sê hy.

Die swartwitpense, wat ook verle- de week op Chandelier aangekom het, is tussen twee en sewe jaar oud.

Die oudste bul, wat 56 maande oud is, is die seun van Rapella wat as die land se top Matetsi-bul gereken word.

• Chandelier bied voorts ook ’n ­tuiste aan sewe gouewildebeeste uit die seldsame Botse- en Giant-bloedlyn van Romaco Ranch. Die gouewildebees is van dieselfde spesie as die blouwildebees, maar ’n kleurvariant.

Volgens Ferreira is die genetika van al die wild wat hy aankoop van groot belang. “Ons wil vordering maak en beter diere uit spesifieke bloedlyne teël met die oog op veral die uitvoermark.”

Ferreira verduidelik dit maak vir hom besigheidsin om met topgehalte wild te teël aangesien ’n goeie en ’n swak dier ewe veel voer vreet. Wat die buffels betref, eet ’n buffel en ’n bees per gewig min of meer ewe veel. Die waarde van ’n goeie buffel is egter baie hoër as die van ’n bees.

“Vir ons regverdig dit om buffels in die droogte te voer terwyl dit nie ekonomies sin maak om beeste te voer nie. Die prys van die voer raak later meer as die prys wat jy vir die bees kry. Met goeie buffels en ander wild, met hoë waarde, is dit egter die moeite werd om hulle te voer vanweë hul hoër pryse.”

Log in with your credentials

Forgot your details?