Burgemeester volgende week verhoor

Colan Sylvester

DIE DA se tugverhoor van een van sy proporsionele raadslede in die Groter Oudtshoorn, die burgemeester Colan Sylvester, vind nou volgende week plaas nadat dit na verneem word op versoek van Sylvester uitgestel is.

Sylvester is nie ’n verkose raadslid nie, maar is in 2016 deur die DA aangewys as sy burgemees­ters­kandidaat.

Die Cape Times het op 21 November berig dat Sylvester die 11 klagtes teen hom bestempel het as meestal “gefabri­seer­de bewerings” wat hy na bewering teen die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gemaak het.

Volgens die Cape Times het Sylvester die DA se Federale Raad in kennis gestel dat hy meer tyd nodig het om hom voor te berei vir die verhoor en dat hy ’n gedetaileerde klagstaat benodig omdat die bewerings teen hom “vaag en onduidelik” is.

Die verhoor sou aanvanklik vanaf 20 November plaasgevind het.

Die Hoorn het Sylvester genader vir kommentaar, maar nie reaksie voor druktyd ontvang nie. Hy was glo gister uitstedig.

’n Kennisgewing van Eden FM is egter gister gesirkuleer dat Sylvester vandag om 17:00 ’n gesprek met Poem Mooney en Morné Pietersen sal voer oor kwessies soos politieke tussengevegte, on­dersoeke, grondbesetting, korrupsie en uitgawes.

Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, het vroeër in November aan Die Hoorn gesê die DA se tugpro­sesse word van die party se interne politiek geskei en is so objektief moontlik. (Berig deur Liesel le Roux)