Botsing met motorfiets eis jong pa van dorp

Die motorfiets waarmee Dueron Saptou ver­on­ge­luk het. Foto verskaf

Angelique Erasmus
’N JONG pa van Oudtshoorn is Saterdag in die Oudtshoorn Hospitaal oorlede nadat hy die oggend omstreeks 11:00 met ’n motorfiets in ’n botsing in Langenhovenweg op die dorp betrokke was.

Dueron Saptou (27) was op die 900 cc-Honda-motor­fiets saam met ’n vriend op pad na George om die motorfiets daarheen te neem.

Sy vriend het agter die motorfiets in ’n motor gery.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Saptou in ’n suidelike rigting in Langenhovenweg gery toe die motorfiets na bewering in die omgewing van Hyundai Oudts­hoorn teen ’n randsteen gebots het.

Saptou is per ambulans na die hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings oorlede is.

Volgens Nadia Ferreira, woord­voer­der van die Wes-Kaapse Depar­tement Gesondheid, is Saptou in die hospitaal behandel, maar het hy kort na sy opname aan sy beserings beswyk.

Saptou het in Julie die pa van tweeling-dogtertjies geword.

“Ek wil nie die begrafnis die naweek hou nie, want sy twee dogtertjies word die naweek ’n maand oud,” het sy ma, Catherine Saptou, die week aan Die Hoorn gesê.

Saptou het ook ’n driejarige seuntjie en sou volgens vriende bin­nekort verloof ge­raak het.

Hy was een van vyf kinders, en laat bene­wens sy ouers twee broers en twee susters agter.

“Hy het geweet hy gaan eendag in ’n ongeluk sterf, en was mal oor motorfietsry,” vertel sy ma.

Volgens haar was haar seun baie gewild onder sy vriende en het hy ’n spesiale plek in baie mense se harte gehad.

Sy sê vriende van Saptou wat motorfietsgeesdriftiges is, gaan almal sy begrafnis bywoon.

Die begrafnis vind op Saterdag, 24 Augustus, plaas.

Die plek en tye was nog nie met die ter perse gaan van Die Hoorn vasgestel nie.

Die polisie ondersoek tans ’n klag van strafbare manslag.

• Die motorfiets waarmee Saptou gery het, ’n Honda CBR 900RR Fireblade, is tussen 1995 en 1997 vervaardig.

Die motorfiets staan bekend as ’n “superbike” en het ’n top-spoed van 259 km/h en 130 perdekrag.

Log in with your credentials

Forgot your details?