Borgtog van R10000 vir Attie

Deur Angelique Erasmus
borgtog van R10000 is Maandag in die Oudts­hoorn Landdroshof aan Adriaan “Attie” Deyzel (64), ’n finansiële adviseur van Oudts­hoorn, toegestaan.

Deyzel is reeds twee maande in aanhouding.

Deyzel se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het aan landdros Roelf Konstabel gesê sy kliënt is nie ’n vlugrisiko nie.

Die ondersoekbeampte in die saak, André Arend­se van die Wes-Kaapse Bendegeweld-eenheid, het tydens die borgaansoek getuig dat Deyzel in 2017 op soortgelyke aanklagtes in hegtenis geneem is toe op 58 vuurwapens en ammunisie beslag gelê is. Op van die wapens was daar geen reeksnommers nie. Die saak is toe later deur die staat teruggetrek.

Arendse, met 28 jaar-ervaring in die eenheid, het getuig Deyzel was vroeër die eienaar van ’n onderneming in die Oos-Kaap waar hy met vuurwapens en ammunisie handel gedryf het. Sy lisensie vir die besigheid en perseel waar dit geleë was, het in 2008 verval en is nooit hernu nie. Deyzel het glo toe van die vuurwapens na ’n besigheid in Port Elizabeth geneem, maar dit nooit weer gaan haal nie.

Volgens Arendse is daar in Maart vanjaar ’n lasbrief uitgereik om ’n huis op Oudtshoorn te deursoek.

Deyzel het saam met sy vriendin in dié huis gewoon, maar met die aankoms van die Polisie het hulle gehoor Deyzel woon nie meer daar nie.

Deyzel is later die dag by sy werk opgespoor waar hy as finansiële adviseur werk. Hy het die Polisie na ’n plaas tussen Oudtshoorn en De Rust vergesel waar hy gewoon het, en het volgens Arendse in die voertuig teen­oor kol Jacques van Lill erken dat hy wel vuurwapens by sy huis het. Hy het dit aan hulle uitgewys. Twintig verskillende vuurwapens en ammunisie is in die huis gevind.

Deyzel is toe in hegtenis geneem. Volgens Arendse was slegs twee vuurwapens op Deyzel se naam geregistreer. Dié vuurwapens is egter nie gevind is nie.

• Konstabel het in sy borguitspraak gesê Arendse kon nie die hof oortuig Deyzel is wel ’n vlugrisiko nie, en ook nie duidelikheid gee oor hoe lank die ondersoek sou duur nie.

Deyzel is as deel van sy borgvoorwaardes gewaarsku om nie met getuies kontak te maak nie. Hy moet Maandae en Vrydae by die Oudtshoorn Polisiekantoor aanmeld en die ondersoekbeampte inlig as hy die streek verlaat. Hy moes ook sy paspoort indien.

Die saak word op 3 Junie voortgesit.

Log in with your credentials

Forgot your details?