Boplaas SA se beste produsent

Daniel Nel van Boplaas Familie Wingerde met die toekennings wat die wynplaas Vrydagaand ontvang het toe dit by die 2019 Michelangelo International Wine & Spirits Awards as Suid-Afrika se beste produsent aangewys is.

BOPLAAS FAMILIE WINGERDE in Calitzdorp is Vrydagaand by die 2019 Michelangelo International Wine & Spirits Awards aangewys as Suid-Afrika se beste produsent en daarvoor met die Bidvest Bank Topprodusent-toekenning bekroon.

Dié kompetisie, tans die grootste van sy soort in Afrika, het vanjaar meer as 2 000 inskrywings getrek.
Die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2009 is voorts met die Multi Color Corporation Grand Prix-toekenning be­kroon vir die desert­wyn met die hoog­ste punte in die kompetisie.

Twee ander Boplaas-wyne, die Boplaas Heritage White Muscadel 2014 en die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2017, het elk ’n platinum medalje gewen. Slegs 13 platinum medaljes is toegeken,
Boplaas het voorts dubbelgoud gewen vir sy Boplaas Cape Vintage 2017, en vier goue medaljes vir die Boplaas Ring of Rocks 2016, Boplaas Touriga Nacional 2017, Boplaas Cape Tawny Reserve 1995 en die Boplaas Single Grain Whisky.

“Ons is baie trots daarop om aan­gewys te word as Suid-Afrika se beste produsent en ook op al die ander toekennings,” het Boplaas se eienaar en keldermeester Carel Nel die week gesê. Volgens Nel is dit waarskynlik die grootste prestasie wat dié topkelder nog behaal het.

Die inskrywings is beoordeel deur 24 internasionale en ses Suid-Afri­kaanse kenners. Volgens Lorraine Im­melman, uitvoerende hoof van die Michelangelo-toekennings, was die beoordelaars dit eens dat Suid-Afrika tans die beste wyne in die geskiedenis maak en dat die gehalte van die inskrywings die hoogste ooit was.

Platinum vir De Krans
De Krans Wyne van Calitzdorp se gehalte-wyne is ook by die toekenningsaand beloon toe die kelder se 2019 Muscat de Frontignan een van die 13 platinum-toekennings ontvang het. Om die prestigeryke platinum-toekenning te ontvang moes ’n wyn deur die beoordelaars beskou word as wêreldklas gehalte en ’n minimum van 96 uit 100 punte behaal.

• Nog presteerders was Grundheim Wyne van Oudts­hoorn se RUMkat Rum en Naakte Naartjie Gin en drie wyne van die Calitzdorp Kelder wat met goue medaljes bekroon is.

Log in with your credentials

Forgot your details?