Boorgatkabel vier dae ná installasie by Laurus gesteel

Die kabel wat krag aan die boorgatpomp sowat 80 m onder die grond verskaf, is met ’n baksteen afgekap met slegs enkele draadjies wat nog by die pyp in die grond uitsteek.
Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DAAR was gisteroggend ontsteltenis by Laerskool Laurus op Oudtshoorn toe gevind is die skool se pas geïnstalleerde kragkabel vir hul nuwe boorgat is oornag gesteel.

Die kragkabel van sowat 30 meter lank is Saterdag geïnstalleer en verskaf krag aan die boorgatpomp sowat 80 m diep in die boorgat op die skoolterrein.

Dit wil voorkom of ’n baksteen gebruik is om die kabel by die pyp in die grond af te kap.

Die kragdrade is uit die kragboks daarnaby geruk.

Die kabel en pyp sou Woensdag onder die grond begrawe geword het, met die voltooiing van die sloot die oggend.

“Dis vir ons teleurstellend om te sien dat iemand die kabel gesteel het nadat daar soveel opgewondenheid was om water op die dor sportterrein te spuit.

“Die boorgatwater word gebruik om die gras op die kinders se sport- en speelterrein weer aan die groei te kry,” het die skoolhoof, Ronelle Huysamen, gesê.

Sy glo dat die skool so spoedig moontlik ’n plan sal maak om die kabel te las sodat die pomp weer gebruik kan word.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n klag van diefstal Dinsdag deur die skool by die Polisie aanhangig gemaak.

“Die geraamde waarde van die kabel en ander toerusting wat in die proses beskadig is, is sowat R3 000,” sê Visser.

Hy het gevra dat enigiemand Enige persone wat mense opmerk wat kabels brand, of met koper loop dit aan die Polisie moet rapporteer vir ondersoek.

Quintin Boshoff, die eienaar van ’n bekende tweedehandse besigheid op Oudtshoorn, het gister aan Die Hoorn gesê hy het verneem ’n ander kragkabel van sowat 100 meter is dieselfde nag as die diefstal by Laurus ook in Oudtshoorn ge­steel is.

“Die eienaar wie se kabel gesteel is, het die oggend na my besigheid gekom om ons te vra om op die uitkyk daarvoor te wees,” het Boshoff gesê.