Bleeksingvalk gered

Die bleeksingvalk wat gered is.

Die bleeksingvalk wat gered is.                                           Foto: Murray-Wayne Konnie

Die lewe van ’n jong bleeksingvalk is deur die optrede van die Konnie-gesin van Kenneth Hopstraat in die Hospitaal-uitbreiding op Oudtshoorn gered.

Murray-Wayne Konnie, bestuurder: rampbestuur by die Oudtshoorn munisipaliteit en ‘n natuurliefhebber, vertel hy en sy gesin het gistermiddag ná 17:00 by die huis aangekom.

Sy dogter, Meghan, het iets voor die huis gaan optel toe sy die valk sien.

“Ek weet nie wie die grootste geskrik het nie, Meghan of die valk. Toe ek gaan kyk wat aangaan, het die valk weggevlieg.

“Maar ek kon sien iets is fout met hom. Hy kon nie hoogte kry nie en het toe oorkant die pad op die sypaadjie gaan sit,” vertel Konnie.

Hy het toe vir Mornay Thysse van Oudtshoorn Nooddienste en vir Christo Cruywager, ’n valkenier van Oudtshoorn, gebel en gevra om te kom help.

Nadat hulle die valk gevang het, is Theresa van der Westhuizen, bewaringsbestuurder van CapeNature, ontbied en die valk aan haar oorhandig.

Cruywagen skat die valk is sowat 4 maande oud. “Dit lyk vir my of die valk weens die hitte aan uitputting gely het en honger en dors was. Hy behoort darem gou te herstel,” het hy gesê.

Volgens Cruywagen oorleef maar min bleeksingvalke in die natuur en oorleef nege uit tien dit nie tot volwassenheid nie.

 * Van der Westhuizen sê sy het intussen die valk aan dr Willem Burger, ’n veearts wat hom toespits op onder meer wilde diere en roofvoëls, oorhandig. Die valk word vir dehidrasie behandel en sal vrygelaat word sodra hy voldoende herstel het, sê sy.

Log in with your credentials

Forgot your details?