Bestuurder van rooi motor gesoek

Deur Angelique Erasmus
DIE bestuurder van ’n rooi Hyundai word gesoek in verband met ’n tref-en-trap-voorval Sondag omstreeks 12:30 in Hoogstraat in Oudtshoorn.

Hermanus Baadjies (72) was op sy motorfiets in Hoogstraat in die omgewing van Hungry Lion toe hy deur ’n rooi motor van sy motorfiets gestamp is.

Hy vertel die motor het hom verbygesteek. “Die volgende oomblik swaai dit egter terug in die baan en stamp my van my motorfiets af.”

Baadjies sê nadat hy op die grond geval het, kon hy sien hoe die motor oor die spoedwal van die toneel af wegry.

Ooggetuies het die motor, klaarblyklik ’n Hyundai, se registrasienommer afgeskryf. Dit is tans in die besit van die polisie.

Baadjies is per ambulans na die hospitaal geneem, waar hy vir wonde aan sy arm en voet behandel is.

“My skouer het ook in die ongeluk seergekry,” sê hy.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die polisie ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.

Baadjies het gevra dat enige persoon wat moontlik inligting oor die voorval het hom kontak op sy selfoon by 0814635210.