Beloning vir 60 jaar-oue trekklavier

Janine Fourie, bekende musikant van Oudts­hoorn, met die kosbare trekklavier wat uit haar motor op Oudtshoorn gesteel is. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N BEKENDE Oudtshoorn-musikant en sanger, Janine Fourie, het in die vroeë oggendure Dinsdag die slagoffer van misdaad geword toe haar kosbare trekklavier uit haar motor gesteel is.

Volgens Janine het sy by ’n vriend gekuier toe die trekklavier, wat bykans 60 jaar oud is en aan haar oupa behoort het, omstreeks 02:20 uit haar motor op die hoek van Draai- en Noordstraat ge­steel is.

“Ons was besig om flieks te kyk, en ek het net ingesluimer toe my motor se alarm afgaan.”

Sy sê sy het opgespring en deur die venster ’n man by haar motor gesien. “Ek het gegil, maar wou nie ongewapen uithardloop nie. Ek het sommer die eerste mes gegryp wat ek kon kry.”

Toe sy buite kom, was die man reeds weg. Haar motor se ruit was gebreek en die trekklavier weg.

“Ek gebruik die instrument in my vertonings. Dit is my brood en botter! Dit het ook groot sentimentele waarde. Ek maak reeds sowat 25 jaar musiek daarmee.”

Sy vertel haar oupa het ook die houtkas gemaak waarin die trekklavier gebêre word.

Niel Els, sake- en toerismeman wat in die omgewing bly, sê hy is diep geskok oor die voorval. “Hierdie is ’n veilige gebied, maar ons het groot probleme met sakkrappers wat ook die oë is van booswigte.”

• Janine bied ’n beloning aan vir inligting wat lei tot die terugvind van die trekklavier of dit aan haar terugbesorg. Kontak haar by 073 350 0690.

Log in with your credentials

Forgot your details?