Belangrike rol in land se klassieke musiekbedryf

Die imposante NG Moederkerk op Oudtshoorn was die naweek die ve­nue vir die meeste konserte van die Klein Karoo Klassique wat die 11de keer op die dorp aangebied is. Hier tydens die laaste konsert van die fees wat Sondagmiddag aangebied is, ATKV-Virtuose in Konsert, is van links die pianis Megan-Geoffrey Prins, die bariton Bongani Kubheka en die saksofoonspeler Cameron Williams. Hulle is almal voormalige wenners van ATKV-musiekkompetisies.
Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE positiewe terugvoer van vanjaar se Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se klassieke musiekfees wat vanjaar die 11de keer op die dorp aangebied is, was oorweldigend positief.

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kuns­te Onbeperk wat die fees aanbied.

Volgens Theart word daar ook reeds gewerk en beplan aan volgende jaar se 12de Klein Karoo Klassique.

“Ons is besig om met vennote te onderhandel om spesifieke ontwikkelingsprojekte as deel van die fees en die Klein Karoo Kunste-akademie aan te pak – projekte wat spesifiek sal fokus op die jeug. Ons wil nie net talent ontgin nie, maar ook jong gehore deel maak van die fees.”

Die 12de Klein Karoo Klassique sal vanaf 6 tot 9 Augustus 2020 plaasvind.

Theart sê Klein Karoo Klassique vervul deesdae ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse klassieke musiekbedryf en het gegroei tot ’n belangrike platform vir die land se talentvolle kunstenaars.
“Dit is vir ons ook belangrik om elke jaar nuwe ervarings as deel van die fees aan te bied en nuwe feesgangers te betrek.”

Volgens hom het feesgangers vanjaar die diversiteit van die program geniet – van Spaans geïnspi­reerde musiek en dans en marimba-klanke tot meer tradisionele klassieke musiekaanbiedings met Saterdagaand se Gala-konsert een van die hoog­tepunte.

Die ATKV Erfeniskonsert, Vir die liefde van…, was ’n nuwe byvoeging tot die fees. “Dié viering van ons klassieke erfenis het die gehoor se tone laat krul. Dit was ’n belangrike viering van talent hier uit die distrik en die eerste van vele konserte en programme wat aangebied sal word,” sê Theart.

Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting, die ATKV en die beskermheer, Nic Barrow, wat ’n besonderse Nederburg-wynproe na die fees gebring het, asook die plaaslike verblyfborge, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Oudtshoorn en De Rust Toerisme en Ford.

• Ook feesgangers en kunstenaars het op sosiale media vanjaar se fees geloof.
Marianne Myburgh skryf: “An amazing couple of days, food for your soul! Well done organisers!” en Hildegarde Malherbe: “Dit was briljant. Ons het dit baie geniet.”

Die konsert-kitaarspeler Nina Fou­rie-Gouws wat by die openingskonsert (La Femme – A Celebration of Music and Dance) te sien was, skryf: “What a spectacular festival! Thank you for hosting us, Klein Karoo Klassique. We enjoyed every second of it.”