Bekende afrigter ernstig beseer

Wag vir oorplasing na Groote Schuur

’n Foto wat Kalbas Nell (44) vandeesweek op sy Facebookbladsy gedeel het.

Nell se motor ná die ongeluk.

Deur Angelique Erasmus
’N BEKENDE rugbyafrigter van Oudtshoorn, Kalbas Nell (44), word tans in die George Hospitaal behandel nadat hy Vrydagaand ernstig beseer is in ’n ongeluk sowat 3 km buite Oudtshoorn op die George-pad.

Volgens ’n inskrywings op Nell se Facebookblad Dinsdag gaan hy na die Groote Schuur Hospitaal in Kaap­stad oorgeplaas word vir ’n rug­operasie sodra ’n gat in sy long genoegsaam genees het.

Die ongeluk het tussen 20:00 en 21:00 in nat en reënerige toestande plaasgevind, met Nell wat ver­moe­delik uitgeswaai het vir ’n bok en beheer oor sy motor, ’n wit Ford Figo, verloor het.

Sy motor het teen die wal langs die pad afgerol.

Volgens Nell se ma, Dollie, was hy op pad terug vanaf George ná afloop van ’n wedstryd tussen die SWD Arende en die Down Touch Griffons.

“Daar het ná die ongeluk ses karre verby hom gery, en niemand het stilgehou nie. ’n Egpaar van Zoar het uiteindelik stilgehou en die ambulans ontbied. Hulle het by hom gebly tot- dat die ambulans opgedaag het,” sê sy.

Me Nell het gesê sy ken nie die mense wat haar seun bygestaan het se name nie, maar dat sy baie dankbaar is vir die hulp wat hulle aan hom verleen het. Sy het Die Hoorn verwys na iemand wat ons kon help om die identiteit van die egpaar vas te stel, maar sy het geweier om te help.

Volgens me Nell het haar seun twee rugwerwels en twee nekwerwels gebreek. Een van sy rugwerwels is ook verbrokkel, en hy het ’n gat in sy longvlies opgedoen. Sodra sy long herstel, sal hy na die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas word.

Volgens Kalbas se facebook inskrywing van Dinsdagmiddag is die dokters baie beïndruk met die herstel van sy longe, maar het hulle gesê die operasie aan sy rug kan nie plaasvind totdat sy long herstel het nie.

Hy is steeds op sterk pynmedikasie en kry ook nog suurstof.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen saak ondersoek nie.

Hennie Baartman, president van die SWD Rugbyunie, het Nell as ’n rugbyman in murg en been bestempel. “Hy is ’n afrigter by die Mosselbaai Rugbyklub en was vroeër jare betrokke by die Oudtshoorn Rugby-klub en Langenhoven Gimnasium.

“Hy het oral waar hy betrokke was uitstekende diens gelewer.

“Ek sal Kalbas en sy vrou Annelise altyd onthou vir hul reuse-bydrae tot die sukses van 2016 se o.16 Grant Khomoweek wat die SWD Rugbyunie op die Bridgton Sportgronde aan-gebied het.

“SWD Rugby wens hom alle be-terskap en sterkte toe met die herstelproses,” het Baartman gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?