Bejaarde in vroeë ure by kitsbank beroof

Deur Angelique Erasmus
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van menseroof en die roof van ’n bedrag geld nadat ’n 68-jarige man verlede week in die vroeë oggendure in Hoogstraat van sy geld beroof en na bewering amper ontvoer is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die man wat in Oudtshoorn-Noord woon, omstreeks 02:30 Vry­dag­oggend (1 Februarie) geld getrek by ’n Absa- kitsbank naby Club Fantasy in die middedorp.

Die maandelikse SASSA-toelae was vanaf verlede Vrydag, die eerste dag van die maand, beskikbaar.
Die bejaarde man het klaarblyklik van sy huis in Oudtshoorn-Noord na die kitsbank gestap.

Hy is na bewering hierna deur ’n man aangeval wat sy geld wou roof en terselfdertyd probeer het om hom op te laai in sy bakkie.

Die bejaarde het daarin geslaag om weg te kom, maar is volgens ’n ver­klaring wat hy later die dag by die polisie afgelê het, deur dieselfde man en nog ’n man wat in die bakkie was, weer voorgekeer, die keer voor FNB op die hoek van Hoog- en Kerkstraat.

Shaheed Isaacs van Oudtshoorn het vroeg Vrydagoggend ’n inskrywing op Facebook oor die voorval gepos.

Twee mense wat die voorval gesien het, het hom glo daaroor ingelig.

Hy skryf dat hy ook ingelig is dat die twee mans wat die bejaarde beroof het, ’n polisiebeampte was wat van diens was, en ’n vriend.

Log in with your credentials

Forgot your details?