Bejaarde bestuurder onbewus van tref-en-trap

Mediese personeel behandel die beseerde vrou wat Dinsdag in Van der Rietstraat deur ’n bakkie getref is. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N BEJAARDE man van Oudtshoorn wat Dinsdag na bewering met sy wit Isuzu-bakkie ’n vrou in Van der Rietstraat raakgery het, het later die dag gesê hy weet nie dat hy iemand raakgery het nie.

Die 30-jarige vrou wat tans as soldaat by die Infanterieskool opgelei word, was saam met twee vriendinne te voet uit die rigting van Baron van Reedestraat na die Infanterieskool op pad toe die bakkie ook vanaf Baron van Reedestraat oor die Grobbelaarsrivier-brug gery en haar na bewering getref het.

Die bakkie het nie gestop nie, en van die toneel af weggery. Volgens ooggetuies het ’n lid van die Infante­rieskool die bakkie in sy voertuig agterna gesit tot in Jan van Riebeekweg waar die bestuurder stilgehou het, en daar ’n foto van die registrasienommer geneem.

’n Werknemer van K2 in Van der Rietstraat, Jan Oosthuizen, sê hulle het die slag van die botsing tot by die werk sowat 120 m daarvandaan gehoor. Oosthuizen, wat eerste op die toneel was, het die nooddienste ontbied.

Die beseerde vrou is op die toneel vir kopbese­rings en ’n beenbreuk behandel en per ambulans na die hospitaal geneem.

Die Hoorn was Dinsdag by die bejaarde man se huis waar hy gesê het dat hy nie geweet het van die insident nie en ook nie waar die skade aan sy bakkie vandaan kom nie. Die bakkie, wat in die straat geparkeer was, het ’n sigbare duik links voor met die flikker­lig, kant­spieëltjie en lugdraad wat beskadig was.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie ondersoek ’n klag van roekelose of nalatige bestuur en die versuim om te stop en skade en beserings vas te stel na ’n botsing.

Niemand was gister teen druktyd van Die Hoorn in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?