Bedrogsaak teen egpaar in Februarie voortgesit

Deur Garnett Wicomb
DIE lang uitgerekte verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulself na bewering met onwettige tenders verryk en begunstigdes benadeel het, is vir verdere getui­enis tot Februarie uitgestel na die getuienis van ’n voormalige kleinboer in die Ladismith-distrik.

Piet Steyn wat destyds saam met sy pa in die distrik geboer het, het getuig dat die Rabie-egpaar, Marthinus en Johanna, in 2008 ’n besproeiingstelsel op hul grond aangebring het wat nie reg gewerk het nie. Hy moes self agterna inspring om die pype waaraan die sproeiers geheg was, korter te maak omdat dit te hoog was en die wind die water weggewaai het.

Volgens hom het die egpaar saam op die plaas aangekom en vir twee dae daar gewerk.

Hy weet nie wat die Departement Landbou vir die werk betaal het nie.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voomalige tegnikus in diens van die Departement Landbou, sy vrou se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders en dat hulle hulself daardeur onwettig verryk het.
Miljoene rande is by die saak betrokke.

Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor. Hyron Goulding is die aanklaer en Gideon Badenhorst van die firma James King en Badenhorst verskyn namens die beskuldigdes.

Log in with your credentials

Forgot your details?