Bedrog en omkopery

Deur Liesel le Roux
DIE DA-burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het Vrydag twee klagtes – een van bedrog en een van omkopery – teen die munisipaliteit by die Oudtshoorn Polisie ingedien. ’n DA-raadslid, Hendrik Ruiters, het terselfdertyd ook ’n klag van bedrog ingedien.

Die munisipaliteit word tans deur die DA beheer. Albei raadslede is DA-raadslede.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die sake na die Polisie se Handelstak (die Valke) oorgeplaas wat dit nou ondersoek.

Volgens betroubare bronne het Sylvester vroeër vanjaar – op die dag toe hy ’n vergadering met verskeie gemeenskapsgroepe op Oudtshoorn moes bywoon – ook klagtes oor die munisipaliteit by die Handelseenheid op George ingedien.

Visser sê Sylvester se bedrogklag hou verband met die toekenning van ’n tender van R1 558miljoen vir die tydperk 1 Julie 2017 tot 30 April 2019. Die omkopery-voorval het na bewe-ring op 4 April 2019 by die munisipaliteit plaasgevind toe daar na bewering aan iemand gesê is sy/haar kontrak met die munisipaliteit sal hernu word as hy/sy die burgemeester kan oorreed om nie sekere klagtes in te dien nie of dit terug te trek.

Die bedrogklag wat Ruiters aanhangig gemaak het, hou verband met die toekenning van ’n tender van R1,7miljoen vir die tydperk van 1 Oktober 2018 tot 2 Mei 2019.

Dit is nie bekend na watter tenders hier verwys word nie.

Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het by navraag van Die Hoorn gesê hy het gehoor daar is klagtes ingedien, maar dra nie kennis van die inhoud daarvan nie. Paulse sê hy verwelkom dit as mense ’n klag by die Polisie of die Valke indien en moedig hulle aan om bewyse aan die betrokke ­owerhede te oorhandig.

“Ek is bewus daarvan dat daar ook vroeër die jaar gepoog is om klagtes oor die munisipaliteit buite die dorp in te dien, maar dat dit weggewys is,” het hy gesê.

Paulse het Die Hoorn na die Ouditeur-Generaal verwys vir vrae oor moontlike onreëlmatighede ten opsigte van tendertoekennings. Weens die vakansiedag gister was dit egter nie moontlik om betyds ’n antwoord te verkry nie.

• Die DA se Federale Regskommissie was onlangs op Oudtshoorn vir ’n ondersoek na bewe­rings van onderlinge spanning onder raadslede van die dorp asook bewerings van moontlike korrupsie. Verskeie gerugte oor tweespalt onder die plaaslike DA-raadslede en ’n gebrek aan eensgesindheid en samewerking tussen die burgemees­ter en van die raadslede doen reeds geruime tyd die ronde op die dorp.

Log in with your credentials

Forgot your details?