Arts in botsing op berugte pad

’N SWART bees Maandagaand op die berugte Rooiheuwelpad by die Proefplaas verby en op pad na die Kamma­nassiedam het vir dr Wessel Vermeulen, dokter van Oudtshoorn, ’n groot skrik op die lyf gejaag toe hy met ’n bakkie daarin vasgery het.

Volgens Vermeulen is hy baie gelukkig en dankbaar dat hy geen ernstige beserings opgedoen het nie.
Die bees, wat ernstig beseer is, moes van kant gemaak word. Die Nissan Nivara waarmee Vermeulen gery het, is taamlik erg beskadig (sien foto).

Die botsing het die aand omstreeks 20:30 sowat 3 km buite Oudtshoorn plaasgevind. Vermeulen vertel hy was op pad huis toe, toe hy ’n voertuig met ligte aan in sy rigting aan die linkerkant van die pad sien staan het.

“Ek kon nie mooi sien nie en het stadiger gery. Toe ek langs die motor kom, was ek half verblind en het ’n uitgegroeide bees van regs af reg voor my ingehardloop. Ek kon nie na links swaai nie weens die voertuig langs die pad, en ook nie na regs nie omdat ek niks kon sien nie weens die baie ligte. Ek kon ook nie betyds stilhou nie, en het die bees getref.”

Hy meen sy bakkie sou waarskynlik gerol het as hy na links uitgeswaai het en die voertuig langs die pad gemis het. Om na regs uit te swaai was ook nie ’n opsie nie, sê hy.

Vermeulen het ligte nek- en hoofbeserings opgedoen, maar is ná skanderings fiks genoeg verklaar om die volgende dag weer te begin werk.

Die betrokke gedeelte van die pad is berug vir talle noodlottige en ernstige ongelukke wat al daarop plaasgevind het. Die ongeluk waarin drie jong plaas­werkers van die Saag Jonker Groep, Sidwell Kerspuy, Leon Makenna en Nicolene Pedro, vroeg-oggend op Saterdag, 25 Augustus, gesterf het, is skaars 500 meter van waar Vermeulen die bees raakgery het. Nog ’n jong Oudtshoorniet, Rankie Serfontein, het enkele jare gelede sowat ’n kilometer verder in ’n ongeluk gesterf.

Volgens Vermeulen is daar al voorheen berig oor die hoë volume verkeer wat die pad dra en dat die grondpadgedeelte van die pad by tye erg uitgetrap raak met gevaarlike sinkplaatgedeeltes.

Hy kom ook feitlik elke dag verskillende soorte rondloperdiere op die pad teë. Daar is gereeld snags beeste in die middel van die pad op die laebrugoorgang. “Dit is lewensgevaarlik vir die insittendes van voer­tuie wat die pad ry, en kan tot erns­tige en selfs noodlottige ongelukke lei,” het Vermeulen gesê.

Die diere mag van omliggende boere wees en in sommige gevalle is dit beeste van mense wat nie grond het nie en diere vryelik langs paaie laat wei.

Verder gevare op dié pad is dronk voetgangers en fietsryers, veral naweke, wat sonder ligte in die pad loop en self daar aan die slaap raak, sê hy.

Daar word ook gekla oor die hoë snelheid waar-mee swaar vragmotors veral vroegoggende op die grondpad met vragte diere en voer jaag. Hy sê daar word al jare gevra dat dié grondpad geteer word weens die groot vragte wat daarop vervoer word.

Log in with your credentials

Forgot your details?