99 Bome van Hoop geplant

Bo en onder: ’n Groot groep Oudtshoorniete het Woensdag op Oudtshoorn ingespring en op drie plekke in die dorp 99 bome geplant as deel van ’n inisiatief van die Oudtshoorn Besigheidskamer om 100 000 bome – een vir elkeen van die dorp se sowat 100 000 inwoners – teen 2025 te plant. Hier is van die vrolike inwoners by ’n koorsboom wat saam met verskeie ander inheemse bome op die oop stuk grond langs die CP Nel Museum geplant is, asook naby die ingang vanaf Calitzdorp en naby die sirkel by Smartie Town. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
Daar is gister 99 inheemse bome op verskillende plekke op Oudtshoorn geplant as deel van die Oudtshoorn Besigheidskamer se Bome van Hoop-projek.

Die bome is deur geesdriftige inwoners op die oop stuk grond langs die CP Nel Museum oorkant die Oudtshoorn Munisipaliteit geplant, asook in Dassieweg tus­sen die Smartie Town-sirkel en die Volstruisabattoir, en op die oop stuk grond oorkant die Oudtshoorn Polisiekollege op die hoek van Voor­trekker- en Parkweg.

19 bome gaan ook in Oewersig geplant word.
Jaco Vorster, ondervoorsitter van die Besig­heids­­kamer, sê die Besigheidskamer beoog om voor Mei 2020 altesame 600 bome in Oudtshoorn te plant.

Hulle beoog ook om volgende jaar ’n projek te loods waartydens 20 000 bome per jaar oor ’n vyfjaarperiode geplant sal word, met die doelwit van 100 000 inheemse nuwe bome wat geplant én versorg is teen 2025.

“Dit is ’n boom vir elkeen van die sowat 100 000 inwoners van Oudtshoorn.”

Volgens Vorster is hierdie die begin van ’n boomplantprojek soos Oudtshoorn nog nooit tevore ervaar het nie en wil hulle graag die gemeenskap betrek.

“Dit sal die voorkoms van die dorp op ’n positiewe wy­se verander. Dit sal ’n belegging wees in ons om­gewing en ons ekostelsel. En as ons genoeg bome plant, sal dit ons dorp afkoel,” lui ’n skrywe wat die Besigheidskamer aan lede gerig het.

Vorster sê die Besigheidskamer is tans ook besig met onderhandelings met die kantoor van die distrikspadingenieur oor die plant van ’n Boom van Eenheid in die plek van die bekende skewe boom wat onlangs langs die Calitzdorppad uitgehaal is. Onderhandelings verloop volgens hom baie goed en sal die Boom van Eenheid hopelik eersdaags op ’n veilige plek langs die pad in die omgewing waar die ou boom was, kan wortel skiet.

Die aanvanklike planne om die Boom van Eenheid binne die weermagterrein reg langs die plek waar die skewe boom gestaan het, te plant, het ongelukkig skipbreuk gely toe die SANW onverwags hul toestemming daarvoor teruggetrek het.

• Individue en besighede wat die boomplant-ini­sia­tief finansieel wil steun, kan skenkings maak in die rekening van die Oudtshoorn Besigheidskamer by ABSA, takkode: 632005, rekeningnommer: 4057514616, verwysing: Boom van Eenheid.

Log in with your credentials

Forgot your details?